Hartomleidings en Angioplastiek (“stents”)

Angioplastiek (“stents”), wat ‘n meganiese oplossing vir koronêre hartsiekte probeer bied is ongelukkig nie so suksesvol as wat ‘n mens sou hoop en as wat dikwels geglo word nie.

Oefening daarenteen veroorsaak dat degenerasie van die bloedvatwande beperk word of selfs verbeter. Konstante, volgehoue oefening het dus ‘n beter effek op die verligting van angina as stents en omleidings.

Die eerste koronêre omleidingsoperasie (hartomleiding, koronêrevatomleiding of KVO) is reeds in Mei 1960 in die Albert Einstein College of Medicine-Bronx mediese sentrum in die VSA uitgevoer.  Sedertdien is die prosedure op verskeie maniere aangepas en verfyn.  Dit word wêreldwyd algemeen gedoen en die intra-operatiewe risiko en sterfte as gevolg van chirurgiese komplikasies het baie afgeneem.  Deesdae word ongeveer 500,000 per jaar net in die VSA gedoen, wat dit een van die mees algemene operasies maak.  Soos lewenstylsiektes meer algemeen word, word al meer van hierdie operasies uitgevoer.

Hierdie is ‘n dramatiese operasie – met ‘n groot mate van karisma – wat baie logies klink. Dit lyk na ‘n ideale oplossing:  die aar is vernou of toe, maak dit oop of vervang dit, en die probleem is opgelos.

Deesdae word ook toenemend stents ingeplaas om die are oop te rek en oop te hou.  ‘n Stent is ‘n metaalveer wat oopvou in die aar na inplasing, en so die deursnit van die aar weer vergroot.  Sommige “drug eluting stents” stel medikasie vry wat bydra om die stent oop te hou.

Dinge is egter nooit so eenvoudig soos dit lyk nie  –  in hierdie geval omdat koronêre bloedvatsiekte nie ‘n meganiese probleem is nie, maar omdat dit ontstaan in ‘n baie meer komplekse metaboliese agtergrond.  Dit is nie net die are in die hart wat vernou is nie:  iskemiese bloedvatsiekte is ‘n sistemiese siekte en al die vate in die liggaam word daardeur aangetas.

Hoe suksesvol is hartomleidings?

Ons kan nou terugkyk oor 50 jaar se statistieke en besin of hierdie dramatiese (en baie duur) operasies werklik ‘n verskil maak aan simptome en verlenging van lewe.

In ‘n onlangse opname wat in ‘n Britse joernaal gepubliseer is om te bepaal wat pasiënte met angina (borskaspyn te wyte aan vernouing van die are na die hart met gevolglike suurstoftekort) se verwagting van die operasie  is, het 80% van pasiënte geglo dat dit hulle lewe sal verleng.

Reeds in September 1975 was daar ‘n publikasie in die New England Journal of Medicine om te bepaal hoe suksesvol die omleiding oor die langtermyn was.   596 pasiënte in 13 “veteran administration hospitals” is in 2 groepe verdeel.  95% van die pasiënte het matige tot erge angina gehad en omtrent twee derdes van die pasiënte het ‘n miokardiale infarksie gehad.

Twee groepe is gerandomiseer wat beteken hulle word met mekaar vergelyk en soorgelyke pasiënte word in die twee groepe ingedeel.    Die uitslag was om die minste te sê teleurstellend.

Na 3 jaar was daar geen verskil in oorlewing tussen die twee groepe nie.  87% van die mediese groep het steeds gelewe en 88% van die chirurgiese groep het steeds gelewe.

Die kritiek op hierdie publikasie was dat 3 jaar te kort was om tot ‘n gevolgtrekking te kom.  Die reeks is dus verleng en in 1988 is die opvolgverslag vir die 20-jaarsyfer gepubliseer.  Daar is gevind dat die oorlewingsyfer 25% in die mediese groep en 20% in die chirurgiese groep was.  Die groep wat chirurgie gehad het, het dus oor die lang termyn effens swakker gevaar.

Operatiewe tegnieke is oor die jare heelwat gemodifiseer en die operatiewe sterftes het verminder, maar daar is oorwegend geen verskil aangetoon tussen mediese en chirurgiese groepe nie.

Die uitsondering op hierdie reël is ‘n klein persentasie van mense met die volgende kenmerke: (hierdie riglyne dateer uit 2004)

  • Diegene  wat ‘n blokkasie gehad het van die linkerhoofstam-arterie
  • Pasiënte wat ernstige 3-vatsiekte gehad het waar al 3 hoof arteries erg vernou was en waar pasiënte baie ernstige oefenings-inkorting gehad het met EKG veranderinge
  • Pasiënte wat reeds bloedvatsiekte het, nie net van die are in die hart nie, maar ook van die perifere are na hulle bene toe.  In hierdie groep is ook gevind dat pasiënte waarvan die hartspier funksioneel aangetas is deur ‘n hartsiekte ‘n beter prognose het met operasie as met mediese behandeling.

Die een voordeel wat chirurgie en angioplastiek het bokant mediese behandeling,  is dat beide van hierdie prosedures betekenisvolle verligting gee van angina- simptome  –   beter as mediese behandeling.  Aan die ander kant, enige strategie wat angina pyn kan verbeter, sonder die risiko, die koste en indringende aard van omleidingchirurgie en angioplastiek sal natuurlik deur heelwat angina-pasiënte verwelkom word.

Ten spyte van die feit dat KVO’s tegnies baie verfyn is en dat die operasie op sigself ‘n goeie tegniese resultaat lewer, is daar ernstige newe-effekte op die liggaam te wyte aan die lang duur van die prosedure, lang narkose, en veral waar die bloedsirkulasie tydens die operasie deur ‘n hart-long sirkulasiepomp oorgeneem word; die aorta word afgeklem; die hart word afgekoel en hou op met klop om die chirurg toe te laat om die fyn werk te doen.    Na die operasie word die klamp verwyder, die hart word gestimuleer om weer te begin klop, die bloed sirkuleer nou weer normaalweg deur die arteries en nie meer deur die pomp nie.

Soos alle operasies, is komplikasies ‘n moontlikheid.  Ons moet boonop onthou dat hierdie operasie nie op gesonde mense gedoen word soos trauma-chirurgie nie, maar op mense wat sistemies erge siekte het.

Benewens operatiewe komplikasies het ons ook hier te doen met komplikasies wat direk te wyte is aan die gebruik van die perfusie-pomp, wat breinskade tot gevolg kan hê.  In ‘n reeks waar brein MRI skanderings direk na die omleidingchirurgie gedoen is, is gevind dat 51% van die pasiënte betekenisvolle breinskade opgedoen het.

Die redes hiervoor is onder andere:

  • Die sirkulasiepomp sowel as die trauma van die operasie self veroorsaak die vrystelling van ‘n hele klomp debris in die bloedstroom (beskadigde bloedselle, atrosklerotiese plakette en ook klein bloedklontjies wat op die snyvlakke en waar die klampe losgemaak word vorm).  Hierdie debris en stolseltjies kan in die breinsirkulasie beland en veroorsaak daar mini-beroertes met afsluiting van die klein bloedvate op die periferie van die brein.  (Daar word soms gesê dat die pasiënt ‘n “pompkop” het.)
  • Verminderde suurstofvoorsiening aan die brein, verhoogde of verlaagde liggaamstemperatuur, wisseling in bloeddruk, ritmestoornisse, en post-operatiewe koors kan almal bydra tot breinskade.

Wat is dan die alternatief tot hartomleidings?

Reeds in Maart 2004 in ‘n artikel in die hoog aangeskrewe mediese tydskrif  “Circulation”, het Duitse navorsers in ‘n reeks van 101 pasiënte met stabiele koronêre bloedvatsiekte die volgende gevind: met behulp van ‘n oefenprogram wat profesioneel voorgeskryf was, het geen van die pasiënte in die navorsingsgroep gesterf tydens die studie nie.

Uit die 101 pasiënte het 21 van 50 pasiënte wat ‘n angioplastiek gehad het ‘n miokardiale infarksie gehad terwyl slegs 6 pasiënte van die 51 in die oefengroep ‘n miokardiale infarksie gehad het.

Die oefengroep het veel groter verbetering in maksimale oefenvermoë gehad en hulle was 32% minder geneig om verergering te kry van hulle basiese siektetoestand (nl. Aterosklerose).

Die koste van die oefengroep was ook die helfte van die koste van angioplastiek.

Voorkoming

Dit is natuurlik baie beter om hartsiekte te voorkom as te probeer behandel deur die volgende:

  • Gesonde eetgewoontes
  • Moet nooit rook nie (rook is no.1, 2 en 3 op die lys van oorsake vir hart- en bloedvatsiektes)
  • Beperk kalorieë en moenie gewig optel nie
  • Kontroleer diabetes en bloeddruk.

Neem ‘n positiewe besluit om jou gesondheid op te pas  –  dis jou kosbaarste besitting.

Ter slotte

Dit is baie duidelik dat die werklike oorsaak van koronêre siekte nie meganies is nie.  Dit is vir hierdie rede dat angioplastiek (“stents”), wat ‘n meganiese oplossing vir die probleem bied, nie so suksesvol is wat ‘n mens sou hoop nie.

Oefening gee ‘n stimulus vir arteriële hermodulering, d.w.s. dit veroorsaak dat degenerasie van die bloedvatwande beperk word of selfs verbeter.  Konstante, volgehoue oefening het dus ‘n beter effek op die verligting van angina as stents en omleidings.

About these ads

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s