GESONDHEIDSPRAATJIES: Nov 08

Ek het die teikens vir gesondheid reeds geïdentifiseer tydens u besoek en ook in die eerste nuusbrief (indien u dit nie ontvang het nie en dit wil lees, laat asseblief weet).

Die Europese Geneeskundige Raad het die volgende vyf hoof- oorsake van sterfte geïdentifiseer:  hartaanvalle,  kanker,  beroerte, longsiekte,  suikersiekte (daar is verder ‘n direkte verband tussen hartaanvalle, beroerte en diabetes).

Hierdie is almal is lewenstylgekoppelde toestande en is in ‘n meerdere of mindere mate (70-100%) voorkombaar indien die gesondheidsteikens gehaal word.

‘n Bietjie meer inligting oor Oorsaak no 3.:            Beroerte.

Normale breinsirkulasie lewer bloed teen 60ml/100gram grysstof   (die gespesialiseerde breinweefsel).  Na ‘n beroerte is die bloedsirkulasie ingekort as gevolg van óf afsluiting van ‘n bloedvat, óf ruptuur van ‘n bloedvat met omliggende bloeding.  Indien die bloedsirkulasie daal na minder as 12ml/min sal onherstelbare skade volg, selfs as dit net ‘n paar minute duur. ‘n Daling tussen 12-20ml/min bedreig die brein en veroorsaak die penumbra (“skaduwee rondom”, soos gesien op die MR) met tydelike swelsel,  en hierdie hele bedreigde area kan nog gered word indien onmiddellik opgetree word. Daar is egter min tyd en elke minuut tel,  want die brein verloor nou 2 miljoen neurone per minuut.

In 1995 word nuwe navorsing  in die  VSA gepubliseer  (NINDS Recombinant Tissue Plasminogen Activator Stroke Trial) waar die tydige toediening van t-PA  nuwe hoop bied indien ‘n beroerte is as gevolg van afsluiting van ‘n arterie nadat ‘n trombus (bloedklontjie in die aar) gevorm het.  t-PA kan glad nie gebruik word  indien die beroerte is as gevolg van ruptuur van ‘n bloedvat met gevolglike bloeding nie (in lg. geval word die bloeding vererger deur t-PA).

t-PA, indien betyds gegee, sal alle bloedstolsels in ‘n arterie volledig oplos en  die sirkulasie herstel. Dit kan net gedoen word indien die pasiёnt baie vinnig by ‘n hospitaal waar hierdie diens beskikbaar is, kan kom, al die nodige ondersoeke vinnig afgehandel kan word (bloedstollingstoetse en ‘n MR van die brein) en die t-PA toegedien kan word binne 3 ure vanaf die eerste simptome van ‘n beroerte Simptome van beroerte is bv. skielike verlamming of verswakking van ‘n hand of been  – die pasiёnt sal bv. ‘n koppie of glas uit die hand laat val, of val omdat ‘n been skielik meegee; die mondhoek kan hang, spraak “slur”, skielike verwardheid.    Na 3 ure is t-PA  nie meer effektief nie, dus is hierdie nie ‘n wonder-antwoord vir alle beroertes nie.   Die statistiese verbetering is 12%,  wat  kan beteken dat pasiёnte na 3 maande  30% beter vermoёns het, met minder inkorting.

Ongelukkig bereik net 35-55% van pasiёnte die hospitaal selfs binne 6uur. In die VSA kwalifseer net 3-8% pasiente vir t-PA behandeling .

Die korrekte diagnose van die oorsaak van die beroerte (trombose of bloeding) is van  lewensbelang.  Dis  nodig dat die pasiёnt en die familie ‘n ten volle ingeligte besluit saam met die dokter neem, volledig bewus van die voor- en nadele en die kans van ‘n uiters slegte bloeding met baie erger gevolge.

Onthou dat die aanloop tot ‘n beroerte oor baie jare strek.  Aantasting van  bloedvate  is progressief en begin reeds in die jeugjare.  Dit vererger oor jare  afhangende van individuele gesondheidsrisiko’s. Die verloop van aterosklerose is kompleks,  en het te doen met cholesterolneerlegging (LDL- tipe) in die arteries (die sg. slagare).  Daarna volg beskadiging en wanfunksie van die binnelaag (endoteel) van die bloedvat, as gevolg van ‘n inflammatoriese reaksie in die bloedvatwand, wat dit verswak en verder laat aanpak.  Hierdie inflammasie speel uiteindelik ‘n sentrale rol in bloedvatsiekte, hartaanvalle en beroerte.

Neem dus vroegtydig ‘n besluit om jou gesondheid te bewaar,  om nie skielik wanneer dit te laat is, in ‘n krisis te land om breinweefsel te probeer red nie.  Laat ons liewer die brein en die verstand wat ons het,  gebruik om die voor die handliggende teikens na te volg.  Dieselfde riglyne  geld ook vir die voorkoming van  ander ouderdomsiektes van die moderne tyd, soos Alzheimer se siekte, Parkinsonisme,  kanker,  nierversaking, die komplikasies van  suikersiekte ensovoorts.

Die bewaring van jou gesondheid verg ‘n positiewe besluit.

 

 

Hier volg antwoorde op vrae wat ek gekry het.

1)       Wanneer ‘n bejaarde pasiёnt ontslaan word uit die hospitaal, kan die  spierswakheid wat a.g.v. bedrus ontstaan,  weke neem om te herstel. (vir spierkrag om te herstel na een nag in die bed neem meer as  ‘n uur van aktiwiteit!  Herstel neem  ‘n hele  paar dae na een week in die bed)

 

2)    Indien anti-biotika nodig was,  verander dermkanaalfunksie dikwels oor die kort termyn  en geen afleiding kan op daardie stadium gemaak word oor ander onderliggende siektes nie. Moet nie onmiddellik na behandeling van ‘n infeksie besluit op dermkanaalondersoeke  nie  –  gee eers kans dat die liggaam na normaal terugkeer.

 

3)    Dieetnavrae:  Mense met dermkanaalprobleme moet liefs speserye vermy.   Vars kruie en blaartjies is aanvaarbaar.   Suiwelprodukte (lae vet, onversoet)  word sterk aanbeveel behalwe as ‘n pasiёnt melk-onverdraagsaamheid het.  Melk,  veral afgeroomd, bevat  baie voedingswaarde . In geval van berekende gewigsbeheerprogramme  verhoed melk dat spiere ook saam met die vet verloor word. Melk  verhoog ook die verlies van buikvet (boepensvet).  Voor die tyd van steroïede en kragvoeding  (wat nie aan te bevel is nie!) was afgeroomde melk die standaardvoeding van kragsport atlete.   14% van die blanke rasse het  laktose- intoleransie (melkonverdraagsaamheid).

 

4)    Daar was ‘n vraag oor knoffel en uie. Beide  sal  meer winderigheid veroorsaak en daarom sal mense gewoonlik bietjie versigtig wees,  maar dit maak  ‘n mens nie siek nie! Daarby verbeter dit wel (in groot hoeveelhede)  die immuunstelsel.  Uie is deel van ‘n spesie met meer as 500 soorte en almal het baie goeie eienskappe wat reeds deur Alexander die Groote herken en gebruik is.  Daar word baie bewerings gemaak oor eienskappe soos anti-bakteriёle en anti- fungus werking,  beskerming teen kanker, anti – inflammatoriese  en anti- allergeniese eienskappe,  vermindering van  insulienweerstand en verlaging van bloeddruk. Ons moet onthou dat ‘n gesonde dieet/lewenstyl beslis genesende eienskappe het, maar dan moet dit in geheel gevolg word.  Om te konsentreer op slegs een of twee kossoorte en baie daarvan te wil eet, gaan weinig verskil maak.

Besluit dus vroegtydig om ‘n gesonde eetpatroon en lewenstyl te volg.  Ongelukkig is daar vele wanpersepsies oor wat gesond is (bv. daar  word allerweё geglo dat vrugtesappe gesond is, en is werklikheid is dit een van die mees ongesonde uitvindsels van alle tye).  Maak seker dat jy die ware feite het.

Bekamp ook so ver moontlik stress en die baie negatiewe uitwerking daarvan op die liggaam.  Neem ‘n positiewe besluit om nie aanhoudend oor dinge te pieker nie.  ‘n Mens bekommer jou gewoonlik die meeste oor dit wat nooit gebeur nie. Onthou dit is volgens die Spreukedigter die vrolike hart wat die liggaam gesond hou.   

 

Sterkte met die goeie voornemens!

6 thoughts on “GESONDHEIDSPRAATJIES: Nov 08

  1. Dr. Dit is nou al ‘n geruime tyd dat my voete brand (dit voel of ek op warm seesand loop) Ek kry vreeslik warm en sweet baie, my hande is skurf en skilfer behoorlik of tussen my vingers, dit jeuk ook en gaan maklik stukkend. somtyds voel ek vreeslik moeg en is te moeg om my arms op te tel, ander dae is die bogenoemde simptome nie teenwoordig nie. Ek was al by my dokter maar stap elke keer daaruit sonder enige antwoord.

  2. Dr Francois

    My man, Kobus, was jare gelede by u praktyk in Bfn. Hy het uitstekende resultate verkry maar sukkel steeds met sy kolon. Alhoewel hy vir die afgelope 20 jaar weer 3 x vir ‘n kolonoskopie gegaan het, is slegs ‘n diagnose verkry dat ‘niks verkeerd’ is nie. Die feit bly egter staan dat hy wissel van totale diaree tot hardlywigheid. Die diaree is die ergste. ‘n Toestand van Purinis Ani is ook in Nov 2009 gediagnoseer asook die vergroting van die prostaat (wat blykbaar as gevolg van die Purinis Ani is). Geen aanbevelings is egter verkry om die toestand te hanteer nie. Hy probeer gesond eet en oefen gereeld, alhoewel die byna konstante diaree hom baie terugsit.

    Hoe stap ons die pad verder?

    Groete
    Aldi Lombard

    • Beste Kobus jammer om te hoor dat dit nognie beter gaan nie. Ek hoop van harte dar jy wel al is dit korstondig wel beter was nadat jy my gesien het. In die afgelope 20jaar het daar heelwat vordering gekom in die begrip van maagprobleme van verskeie oorsake. Een van die nuwe rigtings wat tog ‘n groot verskil kan maak is ons begrip van die mikro-organismes saam met ons in ‘n verhouding (simbiose) tot almal se voordeel. (dit word die menlike mikrobioom genoem.) Daar kom al meer artikels op die internet hieroor.

  3. hi dok, ons as familie meer bekommerd oor die emosionele veranderinge in ons 66jarige ma na 2 beroertes. sy’s by tye baie aggressief en geirriteerd. soek graag moeilikheid en baie voorbarig en neem niemand se emosies of gevoelens in ag nie. sê en doen, soos sy sê, “net wat sy wil, is haar eie baas”. vertel ook leuens, sal iets gooi na iemand of ‘n persoon vloek. sy sal bv. opstaan en baie rustig en in ‘n goeie bui wees tot mens haar bv weer 11h bel en dan is sy ‘n ander mens in ‘n woedebui. sy is op risperdil, xanor, zopivane. triptonol gelos omdat dit haar bene laat swel. sy weier om oorgeplaas te word in ‘n versorgingseenheid vir bv dimensia. ons voel vreeslik jammer vir haar en veral omdat sy ‘n bespotting raak by die aftreeoord, waar sy steeds op haar eie in ‘n meenthuis bly, en wil graag die beste vir haar doen wat ons kan. sy is baie helder as dit kom by dinge soos bv geld, die neem van haar pille en soos haar psigiater, internis en huisdokter vir ons sê, daar is nie fout met haar breinfunksie en denke, sy sukkel net om reg te praat, haar sinne te formuleer en haarself uit te druk. maar hoekom dan die woede buie en uitbarstings?? moet ons meds vermeerder soos wat gemoed verswak?? is dit die enigste oplossing. dit breek ons harte om haar so te sien, sy raak soos ‘n kind,

    • Anel ons kan saam voel met hierdie swaarkry. Onhou dat die brein maklik skade kan kry. die brein verbruik 25% van die totle energie van die hele liggaam en het ‘n enorme invloed op alles. Diwels sal’n broerte opgevolg word deur wisselende emosies en dit kan tyd neem om hierde verlies te verwerk. Daar is verskilende oordragstowwe in die brein wat almal ‘n eie taal praat. Vier tale nl. Dopaminergies, dit is die taal van energie en krag asook kalorie verbranding. Die twede is asetielcholien wat denke en geheue beheer, GABA (gamma-amino bottersuur) maak ons rustig gee daardie vrede wat die wereld nie veel van weet nie maak ons onafhanklik van verslawende middels, seritonien gee vreugde en maak die lewe die moeite werd. Deur te fokus op rehabiltasie met gewone maatreel dieet oefening slaapatroon en fokus op die dinge wat daarbo is met ewigheidsperspektief en jou lewe te vul met die Woord. kan in sommige gevalle baie ver gevorder word. selfs sonder medikasie. Daar het ‘n verlies van belangrike oordrastowwe plaasgevind medikasie dan hiermee baie help. Die brein bevat stamselle en dus kan tyd ‘ngroot helende effek he.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s