Hoe bly ‘n mens gesond?

Gesonde mense het selde ‘n dokter nodig.

Daar word soveel gepraat oor wat gesond sou wees en wat nie dat selfs ingeligte mense later nie weet wat die feite is nie!    Boonop (soos reeds in vorige artikels genoem is) speel die advertensiemedia so ‘n groot rol in ons lewens, en is daar soveel maatskappye wat miljoene rande wins maak uit dieëtaanvullings en ander gesondheidsfoefies, dat ons toegegooi word met halwe waarhede en selfs hele leuens.

‘n Wetenskaplik-gefundeerde benadering is nodig.  Ek het reeds tevore kortliks daarna verwys, en gee graag meer hieroor, soos wat ek die laaste 30 jaar vir my pasiёnte sê  – ‘n basiese lewenstylvoorskrif.

A.  Die Brein:  Oefen beheer uit

1)       Die vereiste is dat ‘n ontspanne lewensbenadering gevolg word.  Almal is deesdae, met of sonder rede, meer gestres. Werk doelbewus daaraan om nie jou gedagtes op loop te laat gaan nie  –  dissiplineer jou denkwyse!  Mense bekommer hulle gewoonlik die meeste oor dinge wat nooit gebeur nie.   Wag eers om te kyk waarvoor jy moet skrik, en skrik dan as jy wil.

2)      Sorg dat jy genoeg slaap. Sommige mense het meer slaap nodig as ander  –  ken jouself.  Moegheid dra by tot stres omdat jy stadiger dink, stadiger reageer en minder produktief is in alles wat jy doen.  Gee jou brein kans om af te skakel vir ‘n goeie nagrus.

3)      Om gereeld te skaterlag dra by tot gesondheid.

4)      Moenie rook nie!!!  Moet geen dwelms of onnodige medisynes inneem wat jou breinfunksie beïnvloed nie (soos slaappille, opkikkers, stimulante en alkohol).

B.  Spiere, liggaamskrag en ‘n effektiewe liggaam

Om gesond te bly, het ‘n mens ‘n sterk, goed funksionerende liggaam nodig.   Die liggaam is ontwerp vir fisieke aktiwiteit.  As spiere nie gebruik word nie,  word hulle swak en kan nie meer hulle werk doen nie.  Onthou, die hart en die diafragma (mantelvlies) is ook spiere.  ‘n Swak, ongeoefende hartspier sal jou gouer in die steek laat, en ‘n swak diafragma sal makliker ‘n  mantelvliesbreuk ontwikkel;  swak keelspiere predisponeer tot slaap-apnee;  swak rugspiere kan nie die werwelkolom stut nie met eindelose rugprobleme tot gevolg, ‘n werk waar ‘n mens  die hele dag sit, lei tot algemene spierverswakking en ‘n verkeerde liggaamshouding met nekpyn, skouerpyne, rugpyn en allerhande krankemente;   en so kan ‘n mens aangaan.

Ons moet verkieslik meer as 1600 kal/ week verbrand in oefening.   Verkieslik moet dit aerobiese aktiwiteit (stap, swem, draf, fietsry ens.) sowel as kragwerk insluit.  Laasgenoemde kan in ‘n gimnasium gedoen word, maar net sowel tuis gedurende jou dagtaak  (dink bv. hoeveel gewig verskuif ‘n ma met babas en kleuters per dag as sy hulle herhaaldelik optel; en watter tonnemaat verskuif sy per jaar net met supermark-inkope en kosvoorbereiding;  ‘n nutsman tuis wat swaar voorwerpe hanteer doen ook baie kragwerk).  Selfs sit en handgewigte swaai terwyl jy nuus kyk op die TV, het baie waarde vir die instandhouding van spiere.

Onthou, alle bietjies help en selfs min aktiwiteit is beter as geen aktiwiteit.   Moet dus nie lê as jy kan sit nie; moenie staan as jy kan stap nie; parkeer die motor verder weg en stap na waar jy wil wees; stap werk toe; neem die trappe in plaas van die hyser of roltrap!

C.  Eetgewoontes (van die meeste mites en onwaarhede lê hier!)

Die dieëtvoorskrif berus op eenvoudige onweerlegbare beginsels.   Nie net die inhoud nie, maar die totale hoeveelheid wat jy inneem bepaal hoe jy van binne en van buite gaan lyk.

Hierdie is kortliks die riglyne wat ek oor baie jare vir al my pasiёnte  gee  –  vir algemene gesondheid, vir dermkanaalprobleme, vir voorkoming van hart- en bloedvatsiekte, vir diabete, vir mense wat gewig wil verminder.  Daar is slegs in uitsonderlike gevalle (soos bv. glutensensitiwiteit) spesiale dieëtvoorskrifte.

1)      Moet nie te veel proteïene eet nie. Kinders het wel proteïen nodig omdat hulle groei en weefsel bou, maar volwassenes benodig baie minder  –  ons hoef slegs in stand te hou.  Een porsie van een tipe proteïene per dag is genoeg.

2)      Moet nie meer as drie maal per week rooi vleis eet nie.

3)      Die stapelvoedsels van die wêreld bly die basis van wat ons eet.  Maak jou kaloriebehoeftes op uit stysel (koring, mielies, hawermout, sorghum, growwe rys, aartappels  –   in die skil verkieslik, nie gebraai of in olie gebak nie!)

4)      Ses groentes en /of slaaigroentes per dag  –  klein porsies is al wat nodig is, maar verskeidenheid is belangrik.

5)      Twee tot drie vrugteporsies /dag.  Dit is so dat vrugte gesond is, maar vrugte is ook soeter en bevat meer kalorieё.  Groente bevat meer vitamienes en minerale en is steeds meer belangrik.  Pasop vir te veel vrugte eet (veral belangrik vir diabete).

6)      Eet stadig,  gebruik maaltye as ontspanningstye,   moenie laat saans eet en op ‘n vol maag gaan slaap nie.  Die dermkanaal het ook rus nodig!

7)      Eet kos as jy honger is en drink water as jy dors is.

8)      Bly sover moontlik weg van hoё kalorie voedselsoorte, soos suiker en soetgoed  –  konfyt, heuning, lekkers, sjokolade, ook kunsmatige versoeters, en enige vorm van vrugtesap en koeldrank.  Al hierdie kossoorte plaas ‘n baie hoё werkslading op die pankreas, groot hoeveelhede insulien word benodig om die bloedglukosevlak konstant te hou, en alle oortollige kalorieë wat die liggaam nie opgebruik nie, word gestoor as vet.

9)      Bly ook weg van fyn meel – wit brood, wit rys,  fyngebak,  koek  ens.

10)  Speserye, Worcestersous,  tamatiesous en soorgelyke geurmiddels is skerp vir die dermkanaal en bevat dikwels baie sout, preserveermiddels en ook kleurmiddels.  Beperk dus jou inname hiervan soveel as moontlik, of vermy dit eerder heeltemal.

11)  Koffie bevat kaffeïen, ‘n sterk stimulant;  drink verkieslik nie meer as 1 koppie per dag nie.  Daar is ook baie kaffeïen in sommige vitamienpreparate soos Bio Plus, en in drankies soos Red Bull.

12)  Skakel alle versadigde vette uit die dieët, asook diepgebraaide kos, verwerkte vleis soos salami, polonie, spek,  frankfurters, weense worsies ens.

13)  Gebruik die minimum sout.  Onthou dat verwerkte vleise en ander kossoorte dikwels ‘n hoё soutinhoud het, wat stremming op die niere plaas en veral baie nadelig is vir mense  met hoё bloeddruk, of selfs ‘n familiegeskiedenis van hoё bloeddruk.

14)  As jy reg eet, het jy geen,  of ‘n absolute minimum dieëtaanvullings nodig.  Onthou, vitamienes, minerale en alle ander voedingstowwe is die mees effektief in hulle natuurlike vorm, en pille, kapsules, “shakes” en groente- en vrugtesappe is nie noodwendig gesond nie.  Vergelyk bv. die snaakse gewoonte om wortelsap te drink (wat gekonsentreerd, veselloos en te veel van een soort is, en onder andere karotinemie kan veroorsaak  –  d.w.s. selfs die vel word geel a.g.v. die ophoping van karoteen).  Wie sal nou sistematies ‘n hele bos wortels sit en opkou, tensy jy BAIE honger is en dit werklik al is wat daar is om te eet?

Onthou, om in die lae risiko-groep te val moet ons die risiko’s doelbewus uitskakel en dit gaan dissipline verg.

Gesondwees is ‘n besluit!

(Ek het die vorige week volgens my Garmin GPS 16.3 km gestap met my honde en ons het 1406 kal verbrand in oefening  – ek kan nou sien dat ons ook nog nie daar is nie!)  Onthou dat hierdie voorskrifte ‘n riglyn is en nie die wet van die Meders en Perse is nie  –  probeer so 80% van die voorskrif navolg maar maak seker dat die vereiste resultate behaal word sover dit jou gesondheidrisiko’s aangaan.

17 thoughts on “Hoe bly ‘n mens gesond?

  1. Pingback: Hoe om gesond te begin leef | ANNIEN'S HEALTH AND BEAUTY

  2. Doc Francois, jy maak ‘n verskil in talle mense se lewens; baie dankie vir feitlike inligting en praktiese raad; seen vir jou.

  3. Dr. Retief baie dankie dat ek die voorreg kan he om kennis te maak met jou blog.
    Wat ‘n belewenis! Engel en ek het vanaand minder goeie nuus gekry maar met verandering van leefstyl gaan en kan ons ‘n verskil maak aan die omstandighede.

  4. Sjoe dr ek is ook bly oor hierdie raad, ek gaan ook probeer om dit te volg. Ek het mos die vertigo ding. Ek sal graag wil weet wat mens kan doen om bietjie beter te slaap. Ek dink as mens ouer word slaap jy slegter. En, soos dr vir my gesê het ek moet meer rus inkry. Is ‘n slaappilletjie nie maar die oplossing nie???

  5. Pingback: 10 Wetenskaplike beginsels van Gesondheid | Doctor Francois Retief's Blog

  6. Hi Dr….. Vertel my asb meer van ‘n Mantelvliesbreuk. Operasies daarvan, ek verstaan daar is 2 moontlikhede, medisyne wat help asb. Daar is in 2012 ‘n mantelvliesbreuk by my gediagnoseer dmv kamera en sonar.,

  7. Dr francois, ek was in die week by jou vir ondersoeke, buiten die invloed van die krammetjies wat jare gelede ingesit is en die baie ongemaklike effekte daarvan was als reg, ek wil jou net graag bedank vir die wonderlike empatiese rustige en teer manier waarop jy die ronde vroutjie in trane handteer het, ek is so moedeloos en altyd siek ook met fibriomalagie en jy het vir my weer nuwe hoop gegee, ek volg jou eetvoorstel honderd persent en sien jou oor n maand, ek weet dat dr my kan help om weer my kop op te lig en gesonder, gelukkiger lewe te kan leef van hier baie dankie…..ek was reg om heeltemal boedel oor te gee en dr gee my weer hoop

  8. Dankie Dr Retief vir jou insiggewende blog. Ek gaan beslis jou raad hierbo so stiptelik as moontlik volg i v m gesonde dieet, ons kyk of die pyne dan minder word!
    (Was vanoggend met u in konsultasie oor borspyn, ens)

  9. Baie dankie dr Retief! Dit is als so waar en dit maak heeltemal sin! Soos ‘n Hollandse vriend vir my gese het: “Elke pondjie gaan deur die mondjie”. Elkeen is self die sonnebok van sy/haar probleem.

  10. beste dr. Retief, ek was vanoggend 21 Sept. vir ‘n konsultasie by u. U het my verduidelik van my SVK vir die oertyd, ystydperk, van die mikrobes wat sekere stowwe verkeerdelik omskakel, dat ek sellulose kan verteer, en dat ek ‘n klasieke voorbeeld van hierdie “toestand” is. Waar kan ek meer oplees oor hierdie “toestand”?

    • Piere daardie begrippe is nog redelik nuut maar ek sien reeds verskeie publikasies oor die menslike mikrobioom verskyn in ons litteratuur. Miskien moet ons op die blog ‘n slag daaroor skryf!

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s