Alzheimer se siekte

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Alzheimer se siekte is die mees algemene vorm van  demensie  (kranksinnigheid) by mense

ouer as 55 jaar, en alhoeweldit in uitsonderlike gevalle reeds in die veertigerjare kan begin, ontstaan dit gewoonlik eers heelwat later, met ‘n gemiddelde aankoms van 70 jaar.  Dis ‘n komplekse genetiese siektetoestand waar meer as een genetiese mutasie asook omgewingsfaktore ‘n rol speel, en kom meer algemeen by vroue as by mans voor.  Alhoewel dit in families voorkom, sal nie alle lede van die familie dit erf nie.  Dit is moontlik dat 20 – 40% van mense oor 85 jaar Alzheimer se siekte het.

Alzheimer se siekte word gekenmerk deur die stadige aankoms en geleidelike verergering van geheueverlies;  onvermoë om nuwe inligting te leer en op te roep, onvermoë om die regte woord te vind,  afname in logiese denke;  agteruitgang van spraak en waarnemingsvermoë; afname in spiervermoë met inkorting van handbeweging en probleme on te stap; inkorting van die vermoë om alledaagse handelinge uit te voer; “mood swings”, veranderde,  ontoepaslike en onvoorspelbare optrede.  Saam daarmee kan ‘n hele reeks ander simptome voorkom soos depressie, slaaploosheid, waandenkbeelde, gewigsverlies, emosionele uitbarstings en psigoses.   Die meerderheid Alzheimerlyers is egter sagmoedig en inskiklik.  Toenemende agteruitgang is onvermydelik en die siekte duur gewoonlik 8 tot 10 jaar voordat die dood intree, maar in uitsonderlike gevalle is ‘n lewensduur van 1 tot 25 jaar na diagnose  beskryf.

Die diagnose van Alzheimers word nie net gemaak op grond van simptome nie, alhoewel daar ‘n kenmerkende verloop van die siekte is.  ‘n Volledige ondersoek moet gedoen word om ander moontlike oorsake uit te skakel.  ‘n Algemene oorsaak van disoriëntasie en verstandelike inkorting by bejaardes is byvoorbeeld wanneer hulle ‘n groot verskeidenheid medisynes neem, en sodra dit gestaak en sinvol herbeplan word, herstel hulle breinfunksie weer volledig. Ander siektetoestande soos herhalende klein beroertes (veelvuldige infarksie-sindroom), gebrekkige skildklierfunksie, Vitamien 12-tekort en ander vorms van wanvoeding, lewer- of nierversaking, gifstowwe (selfs net blootstelling aan insekdoders en tuingiwwe) en ander breinpatologie moet uitgeskakel word.  Depressie in ‘n bejaarde kan so erg wees dat dit verwar word met degeneratiewe breintoestande. Dit is die moeite werd om ‘n mediese kenner (verkieslik ‘n neuroloog, of ‘n internis) se mening te verkry wanneer die diagnose vermoed word sodat die nodige ondersoeke gedoen kan word.

Genetiese toetsing is in Suid-Afrika beskikbaar, alhoewel dit nie vir almal toeganklik is nie, en kan ‘n rol speel om familielede wat aangetas is, vroegtydig te diagnoseer.  Dis is egter baie belangrik om genetiese toetsing met groot omsigtigheid te hanteer om nie onnodige angs te veroorsaak nie, en volledige berading is nodig selfs voordat die besluit om genetiese ondersoeke te begin, geneem word.

Spesiale ondersoeke en skandering is dikwels in die vroeë fase van die siekte normaal, maar mettertyd wys MR-ondersoeke (magnetiese resonansskandering) kortikale atrofie (krimping van die brein met  funksionele verlies van veral die hoëre breinfunksies soos denke, insig, spraak).    Daar is ook krimping van die hipokampus en ‘n verandering in die samestelling van die serebrospinaalvog wat die brein en rugmurg omring.

Op hierdie stadium is daar nie spesifieke medikasie vir die siekte beskikbaar wat dit kan genee nie.  Die Amerikaanse “Food and drug administration”  keur medisyne soos tetrahidroaminoacridine en donepezil (Aricept) goed, wat wel in gekontroleerde reekse bewys is om ‘n klein persentasie pasiënte te help.  Ander mediskasie is Rivastigamine (Exelon) en Memantine (Ebixa) wat, indien dit vroegtydig gegee word, verloop van die siekte kan vertraag.

Dit is wel van groot waarde om meegaande simptome soos depressie, slaaploosheid en rusteloosheid te behandel. Doeltreffende kontrole van slaapstoornisse en depressie kan die pasiënt se breinfunksie aansienlik verbeter.  Sekere soorte medisyne kan die simptome vererger en moet heeltemal vermy word (bv. sommige asmamedisynes).

Daar is ook nog geen bewysde voorkomingsmaatreëls vir mense wat die risiko vir Alzheimer se siekte het nie, alhoewel dit ‘n veld is waar baie navorsing tans gedoen word.  Dit is moontlik dat anti-inflammatoriese middels (bv. ‘n halwe Disprin per dag), post-menopousale estrogeenvervanging en anti-oksidante soos Vitamiene E in hoë dosisse (1000 internasionale eenhede per dag) van waarde kan wees, en in aangetasde families is dit waarskynlik die moeite werd om dit in elk geval te probeer.

Talle ander rate word gebruik, maar daar is tot op datum nie wetenskaplike bewyse dat enige daarvan werklik van nut is nie.

‘n Gesonde lewenstyl, lewenslange voldoende fisieke oefening, ‘n gebalanseerde dieet,  intellektuele stimulasie en ‘n gebalanseerde lewensbeskouing is altyd ‘n goeie idee vir liggaamlike en  geestesgesondheid.  Die Amerikaanse Alzheimervereniging beveel die volgende aan:

1)      Beheer jou gesondheidsrisiko’s:  hou die bloeddruk binne perke, en die bloedsuiker, bloedcholesterol, en gewig normaal.

2)      Oefen jou liggaam (gereelde fisieke oefening) en brein (lees, studeer, doen blokkiesraaisels,  beoefen interessante stokperdjies, gesels, redeneer)

3)      Voeg Vitamiene E en C en foliensuur by die dieet;  eet vis wat baie natuurlike olie wat hoog is in Omega 3 bevat, soos haring en makriel.

Vroeë diagnose kan baie help om die situasie vir almal makliker te maak.  Die pasiënt kan in die vroeë stadium van die siekte self help om besluite te neem en te besin oor toekomstige probleme en die hantering van toekomstige versorging, wat baie van die verantwoordelikhied en las van latere besluitneming vir die familie kan verlig.  Die menslike en wetlike aspekte van terminale sorg en die laaste fases van lewe behoort indien moontlik bespreek en met die pasiënt uitgeklaar word.

Beide die pasiënt en die versorger(s) het baie ondersteuning nodig, en dit is belangrik om sover as moontlik gebruik te maak van ondersteuningsgroepe en enige beskikbare gemeenskaps- en sosiale hulpprogramme.  Die Alzheimersvereniging gee waardevolle raad oor versorgingsmoontlikhede, probleme, en nuwe ontwikkelings.  Die Suid-Afrikaanse Alzheimer-vereniging se adres is Posbus 81183, Parkhurst, Johannesburg, 2120  Tel. 086 0102681 of 011 478 2234/5/6; faksnommer  011 478 2251 ; e-pos info@alzheimers.org.za ,  webadres www.alzheimers.org.za .  Daar is ook tinligting  beskikbaar by www.alz.org (onderhou deur die Amerikaanse Alzheimervereniging)  Hierdie is ‘n uitstekende webwerf met wye inligting, onder andere wetlike aspekte, die lewende testament, terminale besluite en dies meer, met ‘n groot hoeveelheid praktiese voorstelle.

‘n Arbeidsterapeut is van groot hulp in die beoordeling van die woonplek en voorstelle vir die uitskakeling van gevare en knelpunte. Kombuise, badkamers en slaapkamers moet veilig wees, en die pasiënt moet nie toegelaat word om motor te bestuur nie (ook as gevolg daarvan dat hulle maklik gedisoriënteerd raak, selfs in bekende omgewings, en verdwaal)   In die vroeë fases is eenvoudige maniere om die geheue te verfris,  soos die opstel van ‘n lys van roetine dagtake, van hulp.   Eenvoudige maatreëls soos om ‘n toesighouer aan te wys as die pasiënt kos maak (om seker te maak dat die stoof afgeskakel en die kraan toegedraai word), deure gesluit te hou om te voorkom dat hulle na buite dwaal, hulp met gewone versorging is van groot belang en raak al meer essensieel soos wat die toestand agteruitgaan.  ‘n Rustige omgewing, met die klem op aangename aktiwiteite, help mee om die pasiënt gemaklik en hanteerbaar te hou.

Alhoewel die diagnose van die siekte aanvanklik vir die pasiënt geweldig ontstellend kan wees, degenereer hulle gedagteprosesse mettertyd tot so ‘n mate dat hulle hoegenaamd geen insig het nie.  Die grootste las word gedra deur die naby familie (veral die eggenoot) en die versorgers.  As dinge te veel word, kry professionele hulp met berading, ondersteuning, streshantering, medikasie waar nodig.  Versorgers moet gereeld afgelos word, selfs indien nodig (en moontlik) deur die pasiënt vir kort periodes in ‘n inrigting toe te laat.  Langtermyn versorging in ‘n inrigting is nie altyd beskikbaar of finansieel moontlik nie.  Versorging in die tuisopset kan lei tot ernstige probleme.

Dit is verstaanbaar dat die situasie vir versorger/ naby familie moeilik kan wees om te verwerk.  Ongeneeslike siektetoestande is, selfs in ons eeu van gevorderde mediese moontlikhede, steeds ‘n voldonge feit.  Om vrede te maak met enige een daarvan, en in die proses vrede te maak met ons eie sterflikheid en brose bestaan, is ‘n langsame proses en behels die klasssieke stadia van akute verlies.  Die ou spreekwoord “tyd heel alle wonde” is wel ook hier van toepassing.

Die behoud van die pasiënt se menswaardigheid deur hom/haar goed te versorg, skoon en netjies en goed gevoed te hou, en met liefde en geduld te verdra, is tog mettertyd vir die versorger ‘n eie vorm van troos en bevrediging.  Dis egter ‘n las wat nie alleen gedra kan word nie, en die versorger het algaande meer ondersteuning nodig as die pasiënt.

8 thoughts on “Alzheimer se siekte

  1. Ek is n tuisversorger en versorg n tannie met Alzheimer siekte. Ek sal graag wil weet wat ek kan doen om haar besig te hou, sy sit en slaap lang rukke deur die dag. En in die aand is sy rusteloos. Ek wil die lewe graag vir haar en haar man gemakliker maak. Sy raak soms agressief en ongeduldig, wat kan ek doen om haar te help?

  2. Die demensie, is daar altyd net agteruitgang? Ek het al ouens met dementia gesien wat vir drie weke op die vloere rondkruip van kranksinnigheid, maar kort voor lank weer op die been was.

    Hulle was Hiv+. Is dit ‘n ander tipe vorm van dieselfde siekte? En wat bring dit aan? Hoekom verdwyn dit weer?

  3. My skoonma het alzheimer en dit is vir ons baie moeilik om haar besig te hou met enige aktiwiteite. Sy is in die ouetehuis en wil glad nie daar wees nie en daarom wil ek graag haar besig hou met enige iets sodat sy nie so verveeld kan wees nie. Sy kla daagliks dat die kamer te klein is en wil terug na haar woonstel daarom het ek al als probeer om dit vir haar so aangenaam moontlik daar te maak. Sy het in beide haar oë katarakverwydering gehad en lensoorplanting maar kla daagliks oor haar oog wat seer is – die oogarts het bevestig dat daar nie fout is met haar oog nie en daarom het ek al gedink dit is iets wat vasgesteek het in haar agterkop waaroor sy heeltyd praat. Maw sy wil nie lees, naaldwerk doen of krale werk doen nie – want die oog is seer!
    Waarmee kan ons haar besig hou om haar breinfunksies so helder moontlik te probeer hou?

  4. Lindie die inligting brei altyd uit. Soos jy weet is die Brein die mees fassinerende orgaan bekend. So hartseer as dit siek word.
    C.de Villiers. Multi-infarksie is ‘n voorkombare siekte en moet altyd gediagnoseer en behandel word om sodoende demensie te voorkom. Se vir jou moeder dat sy nie demensie sal kry as sy sorg dat sy nie ook dieselfde siektes het nie. (dit is nie Alzheimer se siekte nie. )
    Vir Anne-marie kan ons se dat verkalking van die are na die hart en brein ook voorkombaar is tot ‘n groot mate.

  5. Baie Dankie vir die inligting. Ons is so bietjie in die duister gewees. My skoon vader het begin met verkalkte are na die hart en brein. Nou is dit veel erger. Ons is n geweldige 3 jaar met hom deur en hoop om hom nou te kan verstaan.

  6. Ek het u artikel bo gelees en dit baie interessant gevind. My ouma is op 70 gediagnoseer met Alzhiemer siekte, maar voor die ouderdom het sy alreeds tekens begin toon. Dit het geblyk of haar siekte begin het weens veelvuldige infarksie sindroom. Huidiglik is sy in ‘n versorgings eenheid. My ma is op die oomblik 53 en ek weet sy is ongelooflik bang dat sy dieselfde paatjie sal loop. Ek het het nou vir ‘n geruime tyd opgemerk dat sy vir my dieselfde vra ‘n paar keer vra. Is dit moontlik dat ek net paranoies raak of kan dit dalk al vroee tekens wees?

    Dankie

  7. Baie dankie vir waardevolle inligting. My 10-jarige dogtertjie het besluit om Alzheimer se siekte te gebruik as die onderwerp vir haar Natuurwetenskap uitstalling. Haar oumagrootjie het Alzheimers ontwikkel en al die inligting wat ons nou bymekaar maak help sommer ook om Ouma beter te verstaan.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s