Die Mikrobioom: Ons eie ekosisteem

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Mikro-organismes in die dermkanaal en hoe dit ons gesondheid beïnvloed

Hoe meer ons te wete kom van die liggaam en sy siektetoestande, hoe duideliker raak dit dat ‘n verskeidenheid van siektes aan dieselfde oorsake toegeskryf kan word.

Een van die huidige belangstellingsvelde is die rol wat die mikrobioom (die ekologiese balans van die mikro-organismes) van die dermkanaal in gesondheid en siekte speel.

Reeds in 1885 het Louis Pasteur ‘n lesing aan die Franse Akademie van Wetenskappe gegee oor die belang van hierdie bakterieë in die vertering van voedsel. Hy het geglo dat lewe in die afwesigheid van hierdie organismes onmoontlik sal wees. Daardie jare was maar min van hulle bekend, maar nuwe tegnieke bevestig hoeveel daar is – vir elke sel in ons liggaam het ons 10 mikro-organismes wat saam met ons lewe. Die genetiese kode van die mikro-bioom van die dermkanaal is 150 maal groter as die genetiese kode wat ons self het.

You are more bacteria than you are you – Scientific American

In die afgelope tyd is omtrent 1000 verskillende mikro-organismes, meestal bakterieë, in die mens geïdentifiseer, waarvan meer as 90% deur slegs 30 tot 40 verskillende spesies opgemaak word. Die groepe wat die meeste voorkom, is bacteroides, probotella groep, bifidobacterium, en die coccoides of die eubacterium/clostridium groep.

Die verhouding tussen gasheer en mikrobiotika is mutualisme, d.w.s. albei se bestaan is tot beide se voordeel. Ander woorde hiervoor is simbiose of kommensalisme. Die rol wat hierdie mikrobioom in die opbou van ons immuunsisteem speel, is fassinerend.

Peri-natale mikro-biotiese blootstelling in vroeë immuun -ontwikkeling:

Vroeë ontwikkeling in die kind se immuniteit word deur die mikro-bioom van sy dermkanaal bestuur.

Die baba kom met hierdie bakterieë in aanraking op verskeie maniere:

  • via moederlike blootstelling;
  • via die omgewing;
  • die manier waarop verlossing plaasvind (d.w.s. deur middel van ‘n keisesnit, of deur normale geboorte waar die baba deur die geboortekanaal beweeg en so aan die moeder se natuurlike mikrobioom blootgestel word);
  • hospitalisasie (aanraking met ‘n groot groep vreemde organismes);
  • borsmelk of melkformules;
  • eetgewoontes in die gesin;
  • die gebruik van antibiotika in die kinderjare;
  • die ander babas in die creche of bewaarskool, boeties, sussies, maatjies;

Al hierdie faktore het ‘n direkte konneksie met latere immunologiese siektes, en speel ‘n rol in allergiese siektes soos asma en velreaksie, latere emfiseem en ook ander outo-immune of inflammatoriese siektes..

Die immuunsisteem beskerm ons teen indringing van vreemde organismes, en verseker terselfdertyd die oorlewing van ons eie mikrobioom.

Homeostase (natuurlike balans in die liggaam) word in hierdie omgewing bewerkstellig deur die vermoë wat die dermkanaal het om te onderskei tussen vriend en vyand.

Die mikrobioom en die inflammatoriese respons
Verskeie organismes is anti-inflammatories (wat die hele immuunsisteem afskaal) en ander organismes is weer pro-inflammatories, wat die immuunsisteem se reaksie verhoog en inflammatoriese siektes bevorder.

Ons kyk ook na ‘n nuwe begrip, en dit is dat dit wil voorkom of parasiete die inflammatoriese respons in die dermkanaal normaliseer (waarskynlik omdat in die eeue wat verby is, mense baie dikwels parasiete soos ‘n verskeidenheid van intestinale wurms gehad en maar mee saamgeleef het, omdat hulle geen manier gehad het om die parasiete dood te kry nie. Met vandag se medikasie ontwurm ons die dermkanaal baie maklik.)

‘n Uitvloeisel van hierdie feit is dat dit lyk asof die teenwoordigheid van intestinale wurms sommige van die inflammatoriese dermkanaalsiekte soos ulseratiewe kolitis en Crohn se siekte, kan voorkom, maar selfs ook kan genees.

Disbiose: is ‘nuwe woord wat beteken die versteuring van die normale mikrobioom met verlies van mikrobioomdiversiteit. Diversiteit van die mikrobioom is krities belangrik en word dikwels versteur deur die oorgroei van patogene (skadelike) organismes, bakterieë of fungi (swamme).

Dis verrassend hoeveel siektetoestande ons deesdae sien wat soos wyd uiteenlopende siektes lyk, maar almal van hulle het een gemeenskaplike ondertoon en dit is die voorkoms van disbiose met verlies van diversiteit van mikrobioom.

Disbiose kan dus aanleiding gee tot siekte soos:

  • inflammatoriese siekte van die dermkanaal (ulseratiewe kolitis en Crohn se siekte);
  • outo-immuunsiektes soos sistemiese lupus, rumatoïede artritis, multiple sklerose;
  • atopie en asma;
  • allergiese dermkanaal- en velsiektes, ook psoriase;
  • ander dermkanaalsiektes soos seliaksiekte (coeliac disease), kolonkanker en selfs die prikkelbare dermkanaalsindroom;
  • tipe 1 + 2 diabetes, wat die gevolg van versteuring van pankreasfunksie is;
  • vetsug en die metaboliese sindroom;

What changes a person’s microbial zoo that puts them at risk for diseases ranging from infections to irritable bowel syndrome to psoriasis? – News24

Sommige mense (bv. wat chromosoom 6-afwykings het) is geneties meer vatbaar vir sekere siektetoestande, en indien disbiose dan by hierdie pasiënte ontstaan, maak dit hulle baie meer gevoelig om bg. siektetoestande te ontwikkel.

Vetsug is geassosieer met ‘n betekenisvolle vermindering van bacteroïdes en bifidobacter. en ‘n drievoudige verhoging in farmaceutes. Daar word nog gespekuleer oor wat die meganisme daarvan is.

Opsommend:
Kennis van die menslike dermkanaalmikrobioom het ‘n deur geopen tot ‘n totale nuwe denkpatroon wat vir ons ‘n nuwe wyse gee om na siektetoestande te kyk.

Weereens is ‘n gesonde lewenstyl baie belangrik, insluitende dit wat ons eet en drink. Ons moet ons simbiotiese organismes beskerm (deur nie onnodig anti-biotika te gebruik wat ons mikrobioom uitwis nie) en die immuunbalans bewaar.

6 thoughts on “Die Mikrobioom: Ons eie ekosisteem

  1. Pingback: 10 Wetenskaplike beginsels van Gesondheid | Doctor Francois Retief's Blog

  2. Hallo Doc Francois, ek was gister by Doc vir ‘n colonoscopy- my microbioom is versteur. Ek kry nie op die webwerf die seksie vir : die regte voedselsoorte om daarvoor te help nie- soos gister bespreek. Waar kan ek dit kry? Ek weet dit is ook ‘n leefstyl aanpassing. Baie dankie, Tanya

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s