Die gevare rondom die gebruik van antibiotika

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

  • Hoewel antibiotika onder die regte omstandighede ‘n wonderkuur is wat lewens kan red, het dit newe-effekte en moet die impak van ‘n kursus antibiotika op die mikrobioom nie gering geskat word nie.
  • Antibiotika is kragteloos teen virale infeksies en moet slegs vir bakteriële infeksies gebruik word.
  • Onoordeelkundige gebruik van antibiotika kan weerstandigheid teen hierdie middels kweek. Daar is ‘n wesenlike gevaar dat die mensdom hom oor ‘n paar dekades mag bevind in ‘n era wat soortgelyk is as die pre-antibiotiese era, waar antibiotika basies nutteloos geword het om ons te beskerm teen infeksies.

Antibiotika word (verkeerdelik) deur baie mense beskou as ‘n wonderkuur wat alle kwale kan genees.

Die ontdekking van Penicillin in September 1928 deur Alexander Flemming was een van die grootste deurbrake in die mediese wetenskap ooit.  Penicillin was 100% effektief teen staphylococcus, ‘n alomteenwoordige bakterium wat verantwoordelik is vir ‘n wye reeks van infeksies – vanaf puisies en pitsere tot dodelike siektes soos longontsteking.  Na die ontdekking van Pencillin is ‘n wye reeks verskillende antibiotikas ontdek en ontwikkel.  Vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom was dit moontlik om dodelike infeksies effektief te behandel.

In 1967 was antibiotika so effektief dat William Stewart (op daardie stadium die “surgeon general” van Amerika) verklaar het: “The time has come to close the book on infectious diseases. We have basically wiped out infection in the United States”.

Infeksies is egter steeds met ons en verder is antibiotika ook nie meer so effektief soos voorheen nie.  Wat is die probleem?  Om dit te verstaan is dit nodig om iets van die werking van antibiotika te verstaan.

Daar is basies twee tipes lewende organismes in die wêreld: eukariote en prokariote.  Eukariote sluit in mense, diere, plant, swamme (die organismes wat antibiotikas maak) en giste.  Bakterieë is prokariote.  Eukariote en prokariote funksioneer verskillend op ‘n sellulêre vlak.  Hulle vervaardig onder andere proteïene op verskillende maniere en die samestelling van hulle selwande verskil.  Antibiotikas teiken hierdie verskille tussen eukariote en prokariote om bakterieë te vernietig sonder om menslike selle ook dood te maak.  Sekere antibiotika blok byvoorbeeld die produksie van die primêre komponente in bakteriële selwande.  As die bakterium nie ‘n selwand kan vorm nie gaan hy dood terwyl die antibiotika egter geen uitwerking op menslike of dierlike selle het nie, aangesien hierdie selle nie selwande het nie.

En waar pas viruses in die prentjie?  Virusse is nie eukarioties of prokarioties nie.  Virusse kan beide eukariote en prokariote aanval en doodmaak.  Virusse word nie beskou as lewendig nie.  Hulle bestaan net uit ‘n bietjie genetiese materiaal (DNA) binne-in ‘n proteïendop.

Hoe maak ‘n virus ‘n mens dan siek?  Wanneer ‘n virus jou liggaam binnedring, neem hy een van jou eie liggaam selle oor.  Die virus forseer dan hierdie geskaakte ligaamsel om virus DNA te gebruik om nog virusse te maak en vry te stel wat dan op hulle beurt nuwe selle skaak.  Jou ligaamselle word dus fabrieke vir virusse.  Dit is waarom antibiotika nie werk vir virus infeksies nie.  Dit is jou eie liggaamselle wat virusse maak.

Antibiotika is dus kragteloos teen virusse.  Al wat ‘n virus effektief kan beveg is jou eie immuunsisteem.  ‘n Mens se liggaam het die mees ongelooflike meganismes om virusse te beveg.  Een van die redes waarom HIV so ‘n dodelike virus is, is die feit dat dit die selle van jou immuunsysteem teiken.  Dit vernietig dus geleidelik die meganisme waarmee die liggaam virusse beveg.

Watter tipe organisme veroorsaak watter siekte?

Virusse veroorsaak: Baterieë veroorsaak:
Verkoue Urienweg-infeksies (insluitend blaasinfeksies)
Griep Die meeste vel- en wondinfeksies
Die meeste gevalle van maaggriep (‘gastro’) Gangreen
Akute bronchitis Absesse
Die meerderheid van oorinfeksies ‘Strep Throat’
Kindersiektes soos masels en waterpokkies Sommige gevalle van longontsteking
VIGS Sommige oorinfeksies
Hondsdolheid Sommige sinusinfeksies
Geelsug (Hepatitis) Tuberkulose

Aanvanklik was antibiotika baie duur, maar namate die farmaseutiese bedryf beter geword het met die produksie daarvan, het antibiotikas goedkoper geword.  Kort voor lank was antibiotika vrylik beskikbaar en dokters het dit links en regs vir feitlik enige siekte of probleem begin voorgeskyf.

Dit was ook nie lank nie voor antibiotikas hulle pad gevind het tot op die plaas.  Veeboere gebruik dit in groot hoeveelhede in voer om ook hier infeksies te beheer.  Die hoofdoel hier is nie soseer om infeksies te behandel nie, maar eerder om infeksies te probeer voorkom.  Na raming word 70% van die antibiotikas wat in die onwikkelde wereld gebruik word vir plaasdiere gegee.

Bakterieë het egter nie terug gesit en gewag om van die aarde af afgevee te word deur mense met hulle antibiotika nie.  Bakterieê het deur mutasies en die uitruiling van genetiese materiaal dit reggekry om meganismes te ontwikkel wat hulle kan help oorleef in die teenwoordigheid van antibiotika.

Vandag is weerstandige bakterieë ‘n geweldige probleem.  Een van die hoofoorsake van die probleem is pasiënte wat ‘n voorskrif vir antibiotika ontvang en nie die kursus voltooi nie.  Kundige wetenskaplikes het presies uitgewerk wat die optimale dosis en tydsduur van behandeling is wat nodig is om bakterieë met ‘n sekere antibiotika dood te maak.  As ‘n pasient ‘n kursus antibiotika begin gebruik vir ‘n bakteriële infeksie word meeste van die bakterieë met die eerste drie of vier pille doodgemaak. Die taaier bakteriële selle het egter langer bloodstelling nodig om doodgemaak te word.  Die pasiënt voel dus gou beter en dink dan hy is gesond.  Pasiënte ervaar ook soms newe-effekte wat daartoe bydra dat hulle nie die kursus voltooi nie.

Met verwysing na die artikel oor die mikrobioom (lees dit hier), dink net watter versteuring antibiotika aan die menslike mikrobioom kan veroorsaak?!

Die probleem van weerstandigheid teen antibiotika ontstaan wanneer ‘n paar bakteriële selle nie doodgemaak is deur ‘n antibiotika nie.  Hierdie taai makkers het die aanslag van die antibiotika oorleef.  Sodra die antibiotika uit die pasiënte se sisteem is, begin hulle weer groei.   Dit gaan nou ‘n kursus van ‘n sterkter tipe antibiotika verg om die weerstandige bakterieë uit te roei.  ‘n Paar van hierdie sterker bakterieë sal nou weer moontlik weerstandigheid op bou teen die sterkter antibiotika.

Vandag is daar spesies van bakterie wat teen alle beskikbare antibiotika op die mark weerstandig is.  ‘n Infeksie deur een van die XDR (Extensive Drug Resistant) spesies is in baie gevalle noodlottig omdat daar geen manier is om dit te behandel nie.  Volgens kenners is daar ‘n wesenlike gevaar dat ons onsself binne ‘n paar dekades mag bevind in era waar antibiotika nutteloos geword het in ons stryd teen infeksies.

2 thoughts on “Die gevare rondom die gebruik van antibiotika

  1. Pingback: 10 Wetenskaplike beginsels van Gesondheid | Doctor Francois Retief's Blog

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s