Duiseligheid, Sinkopie (floute) en Vertigo

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Duiseligheid

Duiseligheid is ‘n gevoel van lighoofdigheid of ‘n gevoel dat jy ligweg dryf en nie heeltemal seker is waar die grond onder jou voete is nie.

Duiseligheid kan verskeie en verskillende oorsake hê, en moet ook onderskei word van vertigo.

Dit kan voorkom wanneer  ‘n mens:

  • ontsteld is
  • gewoond moet word aan ‘n nuwe bril en alles anders lyk as wat jy gewoond is
  • skielik ‘n skerp lig sien
  • baie sleg voel weens ‘n siektetoestand

Duiseligheid mag kom en gaan, maar klaar gewoonlik vanself op.

Sinkopie

As die gevoel van duiseligheid vererger kan dit oorgaan tot bewussynsverlies, wat breedweg as sinkopie (“floute”) beskryf word.  Sinkopie is kortstondige bewussynsverlies en as jy bykom, is jy 100% by jou bewussyn en heeltemal georiënteerd.  Sinkopie kom voor wanneer bloedsirkulasie oor die brein tydelik onvoldoende is, en dit is die natuur se manier om jou letterlik plat te trek sodat die beskikbare bloedvloei die brein kan bereik.

Sinkopie kan wel soms op ernstiger onderliggende patologie dui, wat weereens verskeie oorsake kan hê.

Voorbeelde van sinkopie sluit in:

  • ‘n “Gewone floute”, waar iemand iets sien of beleef wat vir hulle baie erg is of baie slegte nuus kry en dan flou val (dit staan bekend as ‘n vaso-vagale aanval).Photoxpress_660455
  • Ortostatiese hipotensie: ‘n daling in bloeddruk veroorsaak die floute, soos bv. ‘n troepie wat in warm son op parade moet staan, of wanneer jy vinnig uit ‘n warm bed opstaan en die bloed tydelik uit jou brein dreineer.  Hieronder val ook sogenaamde mikturisie-sinkopie, waar ‘n man in die nag opstaan om te urineer en dan in die badkamer neerslaan (die oplossing vir hierdie probleem is om op die toilet te sit  –  vrouens kry nooit mikturisie-sinkopie nie vir daardie rede).
  • Te veel bloeddrukmedikasie wat die bloedvate dilateer om die bloeddruk te verlaag.  Die tipiese voorbeeld hier is oupa of ouma wat in die kerk opstaan om te sing en dan flou word.
  • Baie erge hoesbuie kan hoes-sinkopie veroorsaak waar die persoon letterlik sy asem uithoes. Die verhoogde druk in die borskas verminder die bloedvloei na die brein.
  • Tydelik toksiese toestande soos erge infeksies, hetsy as gevolg van bakterieë of virusse.
  • ‘n Ernstiger oorsaak van sinkopie is harttoestande wat versteuring van die hartritme veroorsaak, met onvoorspelbare daling in bloeddruk omdat die hart nie die vereiste hoeveelheid bloed kan pomp nie en die bloedsirkulasie na die brein dus onvoldoende is.  Dit kan dus  voorkom by atriale fibrillasie (vinnige onreëlmatige hartklop wat die bloedsirkulasie verminder omdat die hart nie goed genoeg tussen slae kan vul om genoeg bloed te pomp en te sirkuleer nie) en ander ritme-afwykings soos hartblok.  Hierdie soort sinkopie kan spontaan herstel, maar neig om te herhaal as gevolg van die onderliggende probleem.  In hierdie geval moet die pasiënt mediese advies inwin.

Sinkopie kan ook veroorsaak word deur siektes van die brein self; ‘n ligte beroerte of epilepsie kan byvoorbeeld lei tot tydelike bewussynsverlies.

Epilepsie veroorsaak verskillende grade van bewussynstoornis wat kan wissel vanaf geringe tydelike “afwesigheid”, tot diep bewussynsverlies gepaard met konvulsies en verlies van sfinkterbeheer.  Laasgenoemde pasiënte is gewoonlik slaperig nadat die konvulsie oor is, of kan selfs ‘n tydelike spierverlamming hê (Todd se paralise) wat later heeltemal opklaar.

Beroerte kan op verskillende maniere presenteer.  Die ligste vorm is ‘n “verbygaande iskemiese insident” waar die pasiënt ‘n tydelike “afwesigheid” het, soms saam met sinkopie (‘n floute).  Dit kan soms gepaard gaan met ‘n onvermoë om te praat (afasie) of deurmekaarpraat (disfasie: die persoon weet wat hy/sy wil sê, maar daar kom ander woorde by sy/haar mond uit) of in somige gevalle ook tydelike spierswakheid/verlamming. Hierdie pasiënte is dikwels gedisoriënteerd en kan hallusinasies kry, of heeltemal delirieus raak.  In die geval van ‘n verbygaande insident sal hierdie simptome spontaan opklaar, maar dit word beskou as ‘n ernstige waarskuwing dat erger aanvalle kan volg indien daar nie aandag aan die oorsake gegee en voorkomende maatreëls getref word nie.

‘n Meer uitgebreide beroerte kan al die bogenoemde simptome veroorsaak, maar dit klaar nie vinnig op nie en kan dae, of in die geval van verlamming, maande duur met verskillende grade van verbetering, of sonder enige verbetering. Die verlamming van ‘n beroerte kom feitlik uitsluitlik net aan die een kant voor, byvoorbeeld  regterarm, -been en -gesigspiere.  As beide bene, of beide arms swak of verlam is, is dit aan ‘n ander siekte te wyte.

(Sien ook die artikel oor beroerte)

Vertigo

Vertigo is die gevoel van draaidronkheid, asof die aarde rondom jou draai, of dat alles skuins is en jy aan die afval is. Met erge vertigo kan jy glad nie loop nie en moet aan voorwerpe vashou omdat jy die hele tyd voel dat jy gaan omval as jy los.  Dit gaan dikwels met naarheid en soms braking gepaard. Dis slegs ‘n gevoel van versteuring van ruimtelike posisie; die bewussyn word nooit versteur of bedreig nie.  Die simptome is gewoonlik so erg dat die pasiënt baie vinnig mediese advies inwin en dit is dikwels nodig om spesiale ondersoeke te doen om vas te stel wat die oorsaak is.

Vertigo kan veroorsaak word deur:

  • Aantasting van die binne-oor, bv. waar iemand lank aan baie harde geraas (industrieël, ontploffings, geweervuur, harde musiek) blootgestel word. In so ‘n geval is daar skade aan die gehoor, sogenaamde desibeltrauma.
  • Infeksie of virusontsteking in die binne-oor, of sogenaamde labirintitis.
  • ‘n Kristalletjie wat in die binne-oor vorm en herhaaldelik vertigo veroorsaak as die kop in ‘n spesifieke posisie gedraai word (posisionele vertigo).
  • Menière se siekte
  • Trauma soos ‘n fraktuur van die temporal skedelbeen, of wanner die trommelvlies geruptuur het.
  • Tumore (groeisels) in die binne-oor.
  • Probleme met bloedvoorsiening na die binne-oor.

Vertigo kan egter ook ‘n simptoom wees van ‘n ligte beroerte, veral in ouer mense en mense met die geskiedenis van iskemiese bloedvatsiekte (vernouing van die bloedvate).

Wat staan my te doen as iemand naby my flou word?  Neem die omstandighede in ag, bv. die troepie op die paradegrond, ‘n jong meisie wat bloed skenk of oom wat in die kerk omval onder sang of gebed.

  • Laat die persoon plat lê en voel die pols.  IS daar ‘n pols?  Is dit reëlmatig?
  • Kry die persoon konvulsies?
  • Haal hy asem?  Is die lugweg oop?  (Onthou daar is baie meer oorsake vir bewussynsverlies as wat hier genoem is)
  • Herstel hy spontaan?  Is hy dan by sy volle bewussyn, of deurmekaar? Is daar verlamming of spierswakheid, en kan hy praat?
  • As die persoon spontaan herstel, is geen optrede nodig nie.  Indien hy nie vinnig en spontaan herstel nie, kry mediese hulp. Dit help die dokter of noodpersoneel baie as ‘n omstander of familielid presies kan beskryf wat gebeur het en hoe die pasiënt gereageer het.

One thought on “Duiseligheid, Sinkopie (floute) en Vertigo

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s