“My kinderoppasser het TB – wat nou?!”

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Hierdie week se interessante artikel is verskaf deur Carin Smit*:

Ons as ouers doen geweldige moeite om vir ons kinders die beste te gee en te doen.  Dit is egter nie altyd maklik nie!

Die probleem:TB huishulp

Ons is onlangs gekonfronteer met die moeilike vraag van wat om te doen nadat ons dierbare huishulp, wat ook ons seuntjie se oppasser is, skielik oorlede is aan HIV-verwante Tuberkulose.

Indien ‘n mens bewus sou wees daarvan dat jou huishulp HIV positief is, sou dit moontlik wees om toe te sien dat sy die nodige behandeling ontvang.  Wanneer iemand behandeling ontvang vir Tuberkulose (TB), steek die persoon gewoonlik nie ander mense so maklik aan nie.  Hierdie artikel gaan egter nie die uitdagings rondom HIV of TB en kinderoppassers aanspreek nie, maar eerder die spesefieke ervaring beskryf wat ons met TB en ons kind gehad het.  Ons skryf geensins ons ervaring voor as die korrekte of enigste antwoord vir hierdie vraagstuk nie, maar glo dat ons ervaring vir ander in soortgelyke omstandighede van nut mag wees.

In ons geval het ons nie geweet dat ons huishulp HIV-positief was of TB gehad het nie tot en met haar dood.

Aangesien ons seuntjie, wat op die stadium van sy oppasser se dood 11 maande oud was, in noue kontak met haar was, was ons uiteraard bekommerd  oor sy risiko om TB op te doen.

Agtergrond oor TB:

Daar is verskeie aspekte van TB wat ons bekommer het:

  1. TB is ‘n baie ernstige siekte met ‘n hoë sterftesyfer.
  2. TB presenteer nie net as pulmonêre tuberkulose nie, maar  kan ook buite die longe gevind word.  Meningiale TB word byvoorbeeld geassosieer met die vliese rondom die rugmurg.
  3. Verder kan dit vir ‘n tydperk latent wees, wat beteken dat die persoon met latente TB reeds geïnfekteer is, maar daar is geen sigbare simptome  nie.
  4. Kinders is veral vatbaar as hulle jonger as 5 jaar is omdat die siekte vinnig van latente tot aktiewe TB kan vorder.
  5. Die meeste  gevalle ontwikkel tot ‘n aktewe siekte tussen 2 en 12 maande vanaf kontak met ‘n siek persoon.

Ons kind is ingeënt met die BCG inenting soos per die protokol in Suid-Afrika, maar die inenting is ongelukking nie 100% effektief nie.  Die effektiwiteit is volgens navorsing ongeveer 80% vir babas wat betref aktiewe TB.  Daar is nie baie navorsing om die effektiwiteit teen latente infektering aan te dui nie.  Die inenting help volgens navorsing ook meer om meningiale TB te voorkom as TB van die longe, asook om die erns van ‘n TB infeksie te verminder.  Hoewel die inenting dus belangrik is, het ons besef ons kan nie net daarop staatmaak nie.

Wat moet ons nou doen? 

Daar was ongelukkig nie vir ons ‘n maklike goeduitgewerkte roete om te volg nie.  Ons was by verskillende dokters (algemene praktisyns en spesialiste) en het ook inligting ingewin van ‘n farmakoloog.  Almal se inligting het verskil.   Die advies het gewissel met betrekking tot:

  1. die diagnostiese toetse om aan te vra
  2. of ons ons seuntjie profilakties moet behandel (met ander woorde, om behandeling te gee wat mag help voorkom dat hy TB opdoen indien hy geïnfekteer was)
  3. hoe lank met profilaktiese behandeling volgehou moet word

Ons het besef dat dit ons as ouers se verantwoordelikheid is om die inligting na die beste van ons vermoë te ondersoek, en in samewerking met die dokters wie se opinies ons die meeste vertrou te besluit hoe om die situasie  te hanteer.  Ons het besluit op ‘n kombinasie van die protokol wat deur ons huisdokter aanbeveel is  (na aanleiding van ’n samevatting van verskeie studies oor hierdie onderwerp) en ‘n artikel wat gepubliseer is in die South African Medical Journal van Oktober 2007.

Diagnostiese toetse:

Ons seuntjie het geen kliniese tekens van tuberkulose gewys nie en was klinies heeltemal gesond.  Ons was dus nie bekommerd oor aktiewe tuberkulose nie, wat ‘n ander roete sou vereis, maar wel oor latente tuberkulose.  Ons het die volgende diagnostiese toetse laat doen:

  1. Borskas X-strale:  Ons was aanvanklik gekant teen die idee van X-strale indien dit nie regtig nodig was nie.  Ons het later ingestem daartoe omdat dit nie net ‘n diagnostiese toets is nie, maar ook ‘n basislyn gee waarmee X-strale vorentoe vergelyk kan word indien daar later simptome sou ontwikkel.
  2. IGRA (Interferon Gamma Release Assays): Dit is ‘n bloedtoets wat spesifiek vir latent TB toets.

Ons het nie ‘n TST (Tuberculin Skin Test) veltoets laat doen nie aangesien die resultate nie baie betroubaar is indien ‘n persoon die BCG inenting ontvang het nie.  Ons wou ook die aantal diagnostiese toetse minimaliseer, aangesien mediese toetse baie traumaties is vir beide ouers en baba.

Behandeling:

Ons het, soos die protokolle voorskryf, besluit om met profilaktiese behandling voort te gaan, hoewel die diagnostiese toetse almal negatief was en wel vir die volgende redes:

  1. die toetse is nie baie goed nagevors is op babas en klein kinders nie
  2. die toetse is nie 100% akkuraat nie
  3. TB is baie gevaarlik vir babas en klein kinders en moet ten alle koste vermy word

Ons het ons baba op 6 maande se profilaktiese Isoniazid behandeling (INH) geplaas.  Voorgeskrewe tydperke van profilaktiese behandeling wissel van 3 tot 9 maande.  Die behandeling het bestaan uit ‘n tablet een keer per dag.  Ons het die tablet fyngedruk en saam met kos vir ons baba gegee. Hy het dit gelukkig sonder enige teenstribbeling geneem.

Newe-effekte:

Ons baba het gelukkig geen newe-effekte getoon nie.  Ligte newe-effekte sluit naarheid, hoofpyn en duiseligheid in, wat nie een maklik is om op te tel in babas nie.  Ons seuntjie was geensins meer geïriteerd of huilerig nadat ons met die medikasie begin het nie.  ‘n Ernstige potensiële newe-effek is lewerprobleme, maar dit is baie seldsaam en kan voorkom by kinders wat reeds lewerprobleme het, ondervoed is, of ander medikasie neem wat hul lewer kan aantas.

Die pad vorentoe:

Ons sal natuurlik ons baba fyn dophou vir enige tekens van aktiewe tuberkulose, wat sou kon insluit:

  1. chroniese hoes
  2. chroniese hoë koors
  3. stadige gewigstoename (raak agter op sy groeikaart)

Tot op hede is ons seuntjie gelukkig steeds blakend gesond!

Slotsom:

Dit was vir ons ‘n baie moeilike en emosionele ervaring en ons is bly die behandeling is klaar en dat ons kind nog steeds gesond is.

Hierdie ervaring het ons weer opnuut laat besef hoeveel gevare daar rondom ons is waaraan ons kinders blootgestel kan word.  Dit is ons as ouers se verantwoordelikheid om hierdie gevare met die advies en hulp van professionele persone, asook met baie gebed te hanteer.

*Carin Smit is in die ma van ‘n pragtige klein woelwater, ‘n geregistreerde fisioterapeut en ook ‘n regskenner.  Sy werk tans in Mpumalanga as beide fisioterapeut en prokureur.  Sy is Dr. Francois Retief se jongste dogter.

2 thoughts on ““My kinderoppasser het TB – wat nou?!”

  1. Ons sit nou in die selfde situasie as Carin ek het nou net eers die veltoets laat doen op my seuntjies en wag vir die uitslae maar dis ‘n moeilike besluit oor wat om verder te doen ek voel so frustreerd ek kan skreeu dis vir my so onregverdig dat my klein lyfies hierdeur moet gaan.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s