Bloedklont in die long (Pulmonale embolus / Veneuse trombo-embolisme)

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Embolus‘n Bloedklont in die long (pulmonale embolus) is ‘n ernstige siektetoestand en een van die oorsake van skielike dood.  Die  bloedklont ontstaan nie in die long self nie, maar kom gewoonlik van êrens anders in die liggaam, dikwels vanaf ‘n bloedklont wat gevorm het in die diep venes van die kuit of die bekken (diep veneuse trombose of DVT).

Alle bloed in die liggaam sirkuleer deur die longedus dien die longe letterlik as ‘n filter wat klontiies of klonte uitsif.  Wanneer dit ‘n baie klein klontjie is, sal dit spoel tot naby die oppervlak van die long en daar vassteek waar die bloedvate reeds baie fyn vertak het.  Hier het bloedklonte  min of geen nadelige uitwerking op die pasiënt nie en hy/sy sal selde daarvan bewus wees.

Wanneer dit egter ‘n groot bloedklont (embolus) is, kan dit die hoof toevoer-aar na een of albei van die longe blokkeer. Wanneer dit gebeur, veroorsaak dit onmiddelik baie erge benoudheid (dispnee), ‘n skerp pyn in die bors, en dit kan gevolg word deur bewussynsverlies of selfs hartstilstand. Hierdie is ‘n mediese noodgeval.

Daar is egter ‘n wye reeks moontlikhede tussen die twee uiterstes, en dit is soms ‘n baie moeilike diagnose om te maak, veral as dit gebeur met ‘n pasiënt met die simptome van ‘n ander siekte soos longontsteking, koors, hartversaking, die ophoes van bloederige slym, asma, of selfs ‘n moontlike hartaanval.  Algemene simptome is kortasemheid en ‘n versnelde hartslag. Die diagnose kan dan slegs bevestig word met spesiale ondersoeke soos bv. X-strale, ‘n RT bloedondersoek (verhoogde D-dimers), en soms moet ‘n radio-isotoopstudie aangevra word.

Daar is ‘n groot aantal toestande wat kan aanleiding gee of bydra tot die vorming bloedklonte in die kuit.  Die mediese woord is “veneuse trombo-embolisme”, wat onderskei moet word van die bloedklontjies wat in die arterieë (slag-are) kan vorm.  (Bloedklonte wat in slag-are vorm, gewoonlik weens erge atero-sklerose, kan  beroertes of hartaanvalle veroorsaak.)

Bydraende toestande tot veneuse trombo-embolisme:

  • Van die algemene oorsake deesdae is langafstand reise, veral lang oorsese vlugte waar ‘n mens vir baie ure lank ingehok sit in ‘n beknopte stoel.
  • Na chirurgie (veral ook ortopediese operasies) wanneer die liggaam se stollingsmeganismes geaktiveer is. ‘n Pulmonale embolus kan nog tot 3 maande na die chirurgie voorkom.
  • Klein bloedklonte kan vorm as ‘n pasiënt ‘n inblywende kateter in ‘n bloedvat het (bv. mense in die intensiewesorg eenheld).
  • Enige siek mens wat lank doodstil in die bed lê, loop die gevaar van trombo-embolisme.

Ander bydraende oorsake is rook, atriale fibrillasie, vetsug, swangerskap, hormonale vervangingsmedikasie, enige vorm van kanker, hoë bloeddruk, obstruktiewe longsiektes, ouderdom bo 60 jaar, en in sommige skaars gevalle ook aangebore afwykings van die bloedstolIingsmeganismes van die liggaam.

Die behandeling van ‘n pulmonale embolus in die akute fase is met anti-stol terapie (aanvanklik inspuitings met middels soos Clexane, later Warfarin as chroniese medikasie). Die INR (bloedtoets wat die stolbaarheid van bloed aandui) moet gereeld by ‘n laboratorium gedoen word en moet binne baie nou grense beheer word deur die Warfarin dosis aan te pas. Gelukkig is daar nou nuwe middels op die mark waarvoor nie gereelde INR-bepalings nodig is nie, maar dit is ongelukkig baie duurder en ons mediese fondse gee selde magtiging vir die gebruik daarvan.

TrombusHoe sal ek nou weet of ek ‘n bloedklont in die kuit het? Dit voel gewoonlik soos ‘n kramp wat nie wil weggaan nie, wat erger word soos die tyd verbygaan, en die kuit kan geswel wees.  Dit kan soms moeilik wees om klinies te diagnoseer. Die D-dimers is ook verhoog, maar soms nie so dramaties soos by ‘n longembolus nie. D-dimers is wel baie nuttig uiskakelmetode: as die waarde normaal is, skakel dit eintlik ‘n bloedkIont uit. `n Doppler-veneuse bloedvloeistudie (dis ‘n sonar-ordersoek wat deur die dokter self, of gewoonlik by ‘n X-straalafdeling gedoen word) sal aandui of die bloedvloei in die kuitvene normaal is. ‘n DVT kan ook in die venes in die bekken ontstaan.

As dit nie behandel word nie, begin die voet en enkel swel, en die pasiënt kan post-flebitiese been ontwikkel (dit gebeur meer as 50% van gevalle). Post-flebitiese been kom voor wanneer daar permanente skade aan die veneuse bloedvatstelsel van die onderbeen aangerig is.  Die bloed kan dan nie meer effektief uit die voete teruggepomp word nie en die verhoogde druk wat ontstaan, kan veroorsaak dat vog uit die are “lek” na die omliggende weefsel.  Dit veroorsak permanente swelling en pyn in die voet..  ‘n Post-flebitiese been is dus dik en pynlik en ongelukklg is daar geen dramatiese herstel moontlik nie. Gereelde stapoefening, fisioterapie en massering om die swelling te probeer verminder, asook die dra van stywe kouse is omtrent al wat ons kan doen.

Daar is ook ander, baie skaarser oorsake vir ander tipes long-embolus soos lug-embolisme (bv. na chirurgie, probleme met die inplasing of verwydering van veneuse kateters), vet-embolisme (na ‘n fraktuur), septiese embolieë vanaf sepsis elders in die Iiggaam en embolieë vanaf tumore.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s