Mantelvliesbreuk, Diafragmabreuk, Hiatus Hernia

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Baie mense verkeer onder die wanindruk dat ‘n mantelvliesbreuk ‘n skeur of ‘n stukkende plek in die mantelvlies (diafragma) is.  Dis is glad nie die geval nie.  ‘n Sogenaamde mantelvliesbreuk is net ‘n verslapping of vergroting van die normale opening in die mantelvlies.

Die mantelvlies is ‘n spierkoepel wat die liggaamsholte in twee dele verdeel:

  • Die boonste gedeelte is die borskasholte (toraks) waarin die hart en longe sowel as die groot bloedvate geleë is.
  • Die onderste gedeelte is die buikholte (abdomen) waarin al die buikorgane geleë is:  die maag, lewer, niere, dun- en dikderm, milt, asook die pelviese organe.

Daar is ‘n normale opening in die middel van die mantelvlies waardeur die slukderm en die groot bloedvate loop.  Van bo af deur die opening loop die slukderm en die aorta, en van onder af kom die inferior vena cava, die groot aar wat bloed terugvoer na die hart.

Baie mense wat ‘n mantelvliesbreuk het, het geen simptome nie en is nie bewus daarvan nie.  Dit veroorsaak geen pyn nie, maar kan soms wel bydra tot refluks, wat voel soos kos wat opstoot in die slukderm, met of sonder sooibrand.

Normaalweg is daar verskeie meganismes wat die ondereinde van die slukderm dig toe hou:

  • die laer esofageale sfinkter (‘n kringspier wat die slukderm soos ‘n tabaksak toetrek wanneer ons klaar gesluk het),
  • sowel as ekstra diafragmaspiervesels wat soos ‘n figuur 8 om die opening strek en die spier daar versterk en toehou.

Die presiese oorsaak van ‘n mantelvliesbreuk is onseker.  Soms is dit ‘n baie klein glybreuk, waar ‘n klein deel van die maag heen en weer deur die opening glip, en soms is dit ‘n groter breuk wat permanent daar bly.  In erge gevalle lê ‘n groot deel van die maag binne die borskasholte, wat dan wel erge simptome kan veroorsaak.hiatus hernia

Verskeie faktore dra by tot die vorming van ‘n mantelvliesbreuk:

  • Dit kan aangebore wees
  • Baie buikvet veroorsaak opwaartse drukking op die opening wat dit kan oopforseer
  • Die drink van enige vloeistof wat gas bevat, wat dan weer na boontoe geforseer word (“burp”) forseer die opening wyer en werk direk teenoor die normale peristaltiese golwe in die dermkanaal
  • Rook benadeel die spieraksie van die slukderm
  • Swangerskap

‘n Mens kan sooibrand kry sonder dat daar ‘n mantelvliesbreuk teenwoordig is, veral wanneer jy verkeerd eet.  Erge spanning kan refluks veroorsaak sonder dat daar ‘n mantelvliesbreuk teenwoordig is.

Die druk in die borskas is negatief (ons “suig” outomaties lug in deur asemhaling) terwyl die druk in die buikholte positief is, d.w.s. inhoud sal makliker vanuit die maag in die borskasholte inbeweeg.

‘n Mens moet onthou dat die mond, keel, slukderm, maag, dunderm, dikderm en tot by die anus dieselfde orgaan is.  Die dermkanaal is ‘n uiters ingewikkelde orgaan wat heeltemal gekoördineerd werk.  As dit nie die geval is nie praat ons van ‘n funksionele dermkanaalafwyking, d.w.s. die dermkanaal funksioneer nie gladweg nie, die peristaltiek is abnormaal of die neuro-oordragstowwe tussen die senuwee-eindes en die spiervesels het ‘n  probleem.   Hierdie tipe simptome loop dikwels in families  (hulle “sukkel met hulle maag”) omdat daar ‘n genetiese geneigdheid bestaan.

Funksionele dermkanaalsimptome sluit in buikpyn, dispepsie, winderigheid, sooibrand, hardlywigheid, diaree (of afwisselend hardlywigheid en diaree) en soms probleme met sluk.  Die simptome vererger gewoonlik tydens episodes van spanning, soos tydens eksamens.

Daar is verskeie maniere om hierdie soort simptome te behandel:

  • Die voor die hand liggende wegspringplek is om kossoorte wat sooibrand en refluks veroorsaak sover moontlik te vermy.
  • Eet saans vroeg klaar, eet ‘n ligte aandete en moenie met ‘n vol maag gaan slaap nie.
  • Rook vererger sooibrand en refluks.
  • Dit help soms om die koppenent van die bed bietjie te lig.
  • Verdere behandeling is simptomaties, soos antisuurmiddels, middels wat windergheid verminder ens.  Dit sal nie die breuk genees nie, maar kan die simptome beheer.

Daar is ook die opsie van chirurgie.  Dit kan baie geslaagd wees mits dit vir die regte indikasies gedoen word, deur ‘n chirurg wat sy storie ken.  Die sg. Nissen-herstel operasie word deesdae meestal laparoskopies gedoen, d.w.s. deur ‘n paar klein openinge.  Soms word ‘n buiksnit wel nog gedoen, en soms misluk die laparoskopiese Nissen en dan word die operasie uitgebrei met ‘n buiksnit.  In sekere gevalle word selfs ‘n torakale snit (‘n torakotomie) gedoen.  Hoe kleiner die ingreep, hoe kleiner is die kans vir komplikasies.

Wanneer ‘n pasiënt egter ‘n motoriese afwyking het (abnormale spieraksie van die slukderm) sal ‘n Nissen nie help nie, en in die skaars geval van achalasie (‘n toestand waar die spier van die slukderm heeltemal abnormaal is) kan ‘n pasiënt nooit weer normaal sluk na ‘n Nissen nie. Soms “glip” die Nissen en is dan nie meer effektief nie.

Onthou weereens dat die dermkanaal een orgaan is. As ‘n pasiënt ook ‘n spastiese dikderm en dikwels buikpyn het, is die kanse dat ‘n Nissen suksesvol gaan wees baie kleiner, en mag die sooibrand selfs voortduur.  Een vergelyking is dat dit nie help om ‘n deksel op ‘n kokende pot wat wil oorkook te probeer druk nie.  Winderigheid vererger na ‘n Nissen.

Hoe besluit ek oor behandelingsopsies?

Dit is altyd interessant om waar te neem hoe pasiënte ‘n besluit neem.  Party mense wil baie beslis ‘n chirurgiese ingreep hê, en is nie geïnteresseerd in ‘n konserwatiewe benadering nie.  Ander vermy weer chirurgie heeltemal (gewoonlik iemand wat iemand ken wat ‘n slegte ondervinding met chirurgie gehad het, of self voorheen so ‘n ervaring gehad het).

Die pasiënt se algemene praktisyn bepaal dikwels die verloop deur te besluit na wie om die pasiënt te verwys:

  • As ‘n pasiënt na ‘n chirurg verwys word, sal chirurgie uit die aard van die saak ernstiger oorweeg word  (“as ‘n mens ‘n hamer in jou hand het, lyk elke probleem na ‘n spyker”).
  • As ‘n pasiënt na ‘n internis of ‘n gastroënteroloog verwys word, sal ‘n konserwatiewe opsie dikwels gekies word.

‘n Goeie algemene praktisyn ken sy pasiënte en besluit meestal daarvolgens.  ‘n Pasiënt kry dus gewoonlik die behandeling wat hy/sy verkies.

Moenie bang wees om vir jou dokter vrae te vra nie.  Lees op en kry soveel inligting as moontlik sodat jy ‘n ingeligte besluit kan neem.  Indien jy met ‘n konserwatiewe benadering begin, kan jy altyd later chirurgie oorweeg.

En onthou:  Moet nooit met pille of operasies probeer om reg te maak wat die gevolg van verkeerde eetgewoontes of ‘n verkeerde lewenstyl is nie.  Korrigeer wat nodig is, skakel nadelige faktore uit en benader jou dermkanaal op fisiologiese beginsels.

8 thoughts on “Mantelvliesbreuk, Diafragmabreuk, Hiatus Hernia

  1. e dankie vir hierdie inligting!Ek het gedink ek is vreeslik siek maar dit klink vir my dat ek my stres beter sal moet leer hanteer.

  2. Baie dankie ek verstaan ook beter, het al 2 sulke operasies gehad en simptome is erger as ooit. Ek besef al 2 was eintlik ‘n mislukking en more is ek oppad na dieselfde dr toe en kan dit nie keer nie. Wat ‘n gemors.

  3. Ons werk se drywer het ‘n mantelvlies operasie gehad en is gister oorlede. Blykbaar het hy ‘n bloeiende maagseer ook gehad.

  4. Ai, dat n mens sulke verkeerde inligting kan ontvang!Baie dankie vir die korrekte weergawe van die mantelvliesbreuk. Ek gaan ook die konserwatiewe manier gebruik.
    Baie dankie.

  5. Dankie vir hierdie inligting. Dit is die beste beskrywing van die probleem en moontlike oplossings. Ek gaan eers die konserwatiewe benadering volg en as dit nie werk sal ek die ander moontlikhede oorweeg. Dit word opreg warder.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s