Proteïen/koolhidraat kontroversie in die diabetiese dieët

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Die bekende sportfisioloog Prof Tim Noakes was onlangs in die nuus nadat hy in sy nuwe boek, “Challenging beliefs”, ‘n siening gepubliseer het waarin afgewyk word van die gewone dieëtvoorskrif wat ons aan diabete gee.

Die gewone benadering is dat die grootste deel van ‘n diabeet se daaglikse inname koolhidraat-gebaseerd moet wees (bv. soos in die voedselpiramide, waar 6 – 11 porsies koolhidrate per dag aanbeveel word).  Die rede hiervoor is dat daar geglo word hoë proteïeninname in die dieët ‘n diabeet se niere in gevaar kan stel.

Die rede vir die lae vetinname behoort duidelike te wees uit die onderstaande tabel:

Kalorie inhoud van verskillende voedselsoorte

Voedsel soort

Kalorieë per gram

Stysel

3-4

Proteïene

4

Alkohol

7

Vet

9

Hiervolgens lyk dit logies om liewer stysel te eet, wat minder kalorieë verskaf as vette en proteïene.

Hierdie bepalings is egter in vitro met n bom-kaloriemeter bepaal in ‘n laboratorium.  In hierdie aparaat word die kalorie-inhoud van voedsel bepaal deur dit direk te verbrand en dan die hitte wat vrygestel word te meet. Dit neem glad nie die in vivo prosesse, d.w.s. die chemiese prosesse wat in die liggaam self aktief is (insluitende die verteringsproses en opname van voedingstowwe uit verskillende tipes dermkanale), in ag nie.

Wat nie gesê word nie, is die ooglopend totale mislukking van hierdie koolhidraat-gebaseerde dieëtvoorskrif om gewigstoename te beperk.  Mense raak toenemend raadop, want vir sommige mense werk geen aanvaarde dieët nie. Min dokters is regtig geïnteresseerd in die behandeling van vetsug, meestal weens die swak resultate, en pasiënte word dus gewoonlik direk na ‘n dieëtkundige verwys.

pear

Die aanvanklik Voedselpiramide was opgestel deur die Amerikaanse Departement van Landbou, en die opgedateerde 2010 VSA dieëtriglyne predik steeds die konsep van 6 – 11 daaglikse porsies brood, graanprodukte, rys, pasta, en dan kleiner hoeveelhede proteïene en baie min vette.

Ten spyte van die dieëtaanbevelings het vetsug een van Amerika se grootste mediese probleme geword.   (Ek kon nie veel agterkom oor hoe die piramide in die eerste plek bepaal is nie.) Daar is mettertyd ook ander variasies van die voedselpiramiede voorgestel, waarvan sommige meer redelik lyk.

Van die punte wat Tim Noakes maak in sy boek is dat die inname van proteïene aptyt onderdruk, omdat ‘n hoë proteïendieët ketone tot gevolg het wat aptyt onderdruk.  Dit wil sê ‘n hoë proteïendieët onderdruk die sensasie van honger en hou jou langer vol.  Ons weet almal dat eiers en wors vir ontbyt ‘n mens langer vol hou, en verhoed dat jy lank voor middigete weer sal honger word.

Hierop volg die argument dat ‘n hoë vet-inname gevaarlik is, cholesterol verhoog en bloedvatskade veroorsaak. Die rol wat die eet van cholesterol in die bloedcholesterol speel, is egter nog glad nie uitgesorteer nie.

Verder weet ons dat verfynde koolhidraat, suiker, suikerbevattende kossoorte en wit meelprodukte, ‘n hoë mate van verslawing teweegbring, wat nie die geval is met ‘n hoë vet dieët nie.  Daar is op die oomblik berigte uit Amerika dat suiker in dieselfe kategorie van verslawing hoort as rook, alkohol en dwelms.  Leke gebruik lankal die term “chocaholic” vir hulle “craving” na sjokolade, suiker en soetgoed.  Groot industriële maatskappye soos Coca-Cola het geen belang daarby dat hierdie inligting gepropageer moet word nie.  Dit is skokkend dat die Amerikaanse diabetiese vereniging tot ‘n groot mate deur voedselmaatskappye, o.a. Coca-Cola, geborg word!

Daar is egter niks nuuts onder die son nie.  Hierdie debat oor watter eetpatroon die beste werk om gewigtoename te beheer, en dan veral die voordele van proteien versus koolhidrate, kom al van baie lank gelede en die polemiek is al in 1862/1863 in koerante gevoer.  Daar is ‘n spesifiek berig oor ‘n pasiënt met ‘n onhanteerbare gewigprobleem wat deur koolhidrate uit te sny en oorwegend proteïene te eet, sy ideale gewig bereik en behou het.

Ons weet dat, teen die tempo waarteen diabetes en vetsug toeneem, mediese dienste in die volgende dekade in die 3de wêreld total oorweldig gaan wees.  Op hierdie stadium is meer as 50% van skoolgaande kinders in SA oorgewig en ongeveer ‘n derde is reeds vetsugtig.

Dit is dus ons plig om gedurig na nuwe gegewens te kyk en om benaderings wat klaarblyklik nie die volle antwoord bied nie, te heroorweeg.  Daniel Boorstein het ‘n opmerking gemaak:  “The greatest obstacle to discovery is not ignorance, it is the illusion of knowledge.” 

Aanbevelings op grond van hierdie inligting:

Tim Noakes se stellings laat ‘n mens weer besef hoe geweldig uniek ons liggame is.  ‘n Eetpatroon wat by een persoon wonderlike resultate oplewer mag moontlik met ‘n ander glad nie akkordeer nie.

Tim Noakes sny koolhidrate so ver moontlik uit sy dieët omdat hy, in sy eie woorde, koolhidraatweerstandig is.  Hy berig dat hy deur nie koolhidrate in te neem nie, sy gewig en bloedsuiker kan beheer.

Die blote feit dat hierdie eetpatroon oënskynlik vir Tim Noakes werk, beteken nie dat ons nou almal hierna moet oorskakel nie.  Dit is ook glad nie die boodskap wat Tim Noakes probeer verkondig nie!  Ek en my gesin het nie op grond van hierdie inligting van Tim Noakes enige verandering aan ons dieët gemaak nie, aangesien die beskrywing van koolhidraatweerstandigheid nie blyk om vir ons ‘n probleem te wees nie.

Indien jy oorgewig is, is dit belangrik om in gedagte te hou dat dit ‘n lewensstyl-aaanpassing gaan verg om gewig te verloor en jou gewig normaal te hou.  Verskeie faktore mag ‘n invloed hê op hoe goed ‘n spesifieke eetpatroon vir jou sal werk.

4 thoughts on “Proteïen/koolhidraat kontroversie in die diabetiese dieët

  1. Ek sit al verewig met abdomen (sluit blaas in) wat ver onder normaal funksioneer. Dr Johan Bahlmann, my uroloog, het per keer gesê ek moet vergeet van die Olimpiese span in ver-pis te haal, ek gaan nie eers ʼn klubspan haal nie. Dikderm dieselfde. Het al alles onder die son probeer … maar niks is standhoudend nie. Martin my apteker vat elke maand sy pond vleis uit my rekening vir allerhande purgeermiddels.

    Die afgelope paar maande, nadat blaaskanker die wyk geneem het, volg ek ‘n soort van ‘n paleo-dieet. Ek is nog altyd ligweg sensitief vir gluten en stysel. Eet omtrent daaglik ‘n hoendereier en vir groter etes veral vis of hoender, selfs lewer, maar sal nooit as te nimmer ‘n vet skaaptjop (veral tweetand) laat links le nie, Eet ook heelwat groengroetes en wortels. ‘n Jagter vir baie baie jare maar sal atyd goed voorbereide beesbiltong bo enige wildsvleis verkies. Dit is nou behalwe as my dogter Lizelle dit doen – sy kan! So ek is nie so heilig Paleo nie! En my BMI is sowat 26.

    My persoonlike mening is dat leefstyl en natuurlik ook ooreet aan verfynde stysels en goeters en hardwiring ons in die Weste se probleem is. Hierby bedoel ek die Anglo-Germaanse tipe en nie die Greco-Romano nie. En as jy nou filosofies wil raak gaan soek die probleem by die Tweede Wêreld Oorlog en die geweldige welvaart en gemaksug onder die Baby Boomer Generasie. Of wat sê ek.

    Groetnis vanuit ʼn pragtige sonnige groen somersdag in die wildernis.

    • my verloofde het 2 jaar trug sy regte groot toon verloor en nu die donderdag het hul sy linker groot toon afgesit.hy is ‘n diabete en suiker was hoog.internis dr retief hom indi hops behandel en my gese om in te gan op sy blog.

  2. Ek is n tipe 2 diabeet lyer. My problem is onder beheer sedert ek alle koolhidrate uitgesny het. Ek gebruik steeds medikasie.
    Dit werk vir my

  3. Uiters interessant! Weereens kom mens onder die indruk dat elke persoon uniek is en dat mens jou eie liggaam moet leer ken om te weet wat werk en wat werk nie.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s