Insulienweerstandigheid en vervetting van die lewer (Steato-hepatose)

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

Een van die groot gesondheidsprobleme van ons tyd is dat ons vir onsself ‘n omgewing geskep het waarvoor ons liggame nie evolusionêr opgewasse is nie. Almal wat vandag lewe, is die nasate van die oorlewers van die verlede, en om te kon oorlewe, moes die liggaam in staat wees om vet te kan stoor.  Die maeretjies het uitgesterf in die eerste hongersnood, koue winter, ystydperk, natuurrampe of oorlog.

In die eeue wat verby is, was die mens se hoofaktiwiteit om genoeg kos in die hande te kry om oorlewing en voortplanting te verseker.  Daarvoor moes hulle baie ver stap, baie harde fisieke werk doen, met groot moeite ‘n bestaan aan die aarde ontworstel, en dikwels is die opbrengs van jagtogte en oeste deur insekte en plae vernietig.  Daar was ook geen maniere om voedsel te bewaar nie (wel later bv sout, soos om vleis in pekel in te lê, wat weer onder andere die oorsaak van ons probleme met hoë bloeddruk is.

Een van die groot deurbrake vir die mens was toe die gebruik van vuur ontdek is.  Voor dit is alle kosse rou geëet, wat op sigself heelwat kalorieë benodig vir vertering, sodat daar minder oor was om te stoor.  Nadat vuur ingespan is om kos gedeeltelik te “verteer” deur die molekulêre struktuur van die kos af te breek, sodat die liggaam net die verteringsproses kan voortsit, was daar meer kalorieë oor om weefsel te bou – dus ook om meer breinweefsel te bou.  Daardeur het die mens ‘n groter brein ontwikkel, in teenstelling met die aapsoorte wat steeds nie vuur kan gebruik nie, en daarom kleiner en minder ontwikkelde breine as die mens het.

So het die mens dan sy groter en slimmer brein ingespan om die lewe vir himself al makliker te maak.  Die uitvinding en ontwikkeling van die stoomenjin deur James Watt in die 1770’s was ‘n geweldige deurbraak en het die Industriële Revolusie ingelui.  Nou kon “energie-slawe” gebruik word om meganies die werk te doen wat die mens voorheen met krag en inspanning moes doen.  Later is elektrisiteit ingespan om ‘n groot verskeidenheid moderne energie-slawe in te span – fabrieksmasjinerie, stowe, wasmasjiene, elektriese skroewedraaiers – te veel om op te noem.

Die ontwikkeling van kunsmisstowwe, nuwe landboumetodes en die gebruik van moderne verkoelingsmetodes en vervoer skep ‘n wêreld waar amper enige soort voedsel die hele jaar deur beskikbaar is.  ‘n Mens is dus ook nie meer seisoensgebonde in wat beskikbaar is vir kos nie, word nie meer soveel blootgestel aan die natuur se seisoensvariasie nie, en raak toenemend meer lekkerbekkig.

Prof R P Walker van die Universiteit van die Witwatersrand het oor jare navorsing gedoen oor die eetpatrone van die verskillende etniese bevolkingsgroepe in Suid-Afrika.  Hy het gevind dat daar bv. in Limpopo-provinsie/Venda/Mpumalanga ‘n groot verskeidenheid eetbare veldvrugte en wortels is, wat oor die eeue deur die vroue versamel is en deel van hulle stapelvoedsel was.  Vandag word dit selde gedoen – dis baie makliker om mieliemeel by die winkel te koop as om so ver te stap en te soek.

Dit laat ons met vandag se mens, wat in ‘n Utopia woon waarvoor die menslike liggaam nie gemaak is nie.  Die absolute oorvloed van kos wat sonder enige inspanning beskikbaar is en veral die klaar vervaardigde en onfisiologiese kossoorte wat mense in massas eet, veroorsaak siektepatrone wat in die verlede ongekend en onmoontlik was.

In die tyd van die “hunter gatherer” was vet en proteïen meer en in groter hoeveelhede beskikbaar.  Na ‘n suksesvolle jagtog is fees gevier en ‘n groot hoeveelheid proteïen is verorber.  Selfs die Koi wat langs die kus gewoon het, het uit vis en skulpvis meer proteïen as glukose gekry.

Suikers en stysels was baie skaars en slegs sekere seisoene beskikbaar.  In die dagboek van die Voortrekker/dwarstrekker leier Louis Trichardt het sy vrou opgeteken watter kruideniersware sy by ‘n smous bestel het, en daarin meld sy dat sy 1 pond suiker vir die jaar gekoop het, wat nie geëet is nie, maar net gebruik is om die suurdeeg te aktiveer.  Veldheuning was skaars en gevaarlik om uit te haal.

Die grootskaalse verbouing van suikerriet sedert die begin van die 1900’s het die mens se eetpatroon permanent verander.  Ooreenkomstig daarmee is vrugte en selfs groente deur genetiese manipulasie al soeter gemaak, tot die wonderlike produkte wat deesdae in ons supermarkte beskikbaar is.

Die liggaam het oor eeue aangepas om baie versigtig te werk met die min glukose wat in die natuur beskikbaar was, en om dit ten beste aan te wend.  Die rede daarvoor is dat glukose die enigste  brandstof is wat die brein kan gebruik, en die liggaam het dus ‘n meganisme onwikkel om glukose op so ‘n wyse te stoor dat daar ‘n reserwe sal wees.  Hierdie meganisme het die naam insulienweerstand gekry, en een van die gevolge van insulienweerstand is dat die liggaam glikogeen (‘n stoorvorm van glukose) asook vet in die lewer ophoop (insulien kan ‘n meganisme aktiveer wat vette direk omskakel na glukose as die liggaam dit nodig het).

Die brein is ons duurste orgaan.  Dit weeg 2% van die liggaamsmassa, maar dit gebruik  20% van die bloedsirkulasie, en dit brand 25% van die glukose wat in die liggaam verbrand word.

Insulien is ‘n hormoon wat deur die pankreas afgeskei word en wat dit vir liggaam se selle moontlik maak om glukose op te neem uit die bloedstroom en te benut as brandstof om die liggaamsprosesse aan die gang te hou.

  • Die hart trek elke dag sowat 100,000 keer saam en pomp elke dag sowat 10,000 liter bloed deur ons bloedvate,
  • die borskas trek minstens 18 keer per minuut saam om lug in die longe in te trek,
  • die bloedvatwande pas gedurig hulle tonus aan om die bloedsirklasie te beheer,
  • die dermkanaal het talle werks-areas en prosesse wat die hele tyd in beweging is,
  • die senuweestelsel moninteer gedurig die liggaam se reaksie teenoor die omgewing en maak deurlopend die nodige aanpassings,
  • spiere hou ons regop en maak alle beweging moontlik sonder dat ons eers daaroor nadink.

Wanneer iemand insulienweerstandig is, skei die pankreas wel insulien af, maar die liggaam se selle is weerstandig daarteen en ignoreer tot n mate die opdrag wat  deur insulien gegee word om glukose binne te laat.  Die vlakke van glukose in die bloedstroom neem dus toe aangesien dit nie deur die selle binne gelaat of benut kan word nie. Hierdie meganisme lê dus ook aan die wortel van die oorsaak van diabetes (suikersiekte).

In mense met die genetiese agtergrond vir diabetes, gebeur dit verder dat hoe meer kalorieë hulle inneem, hoe hoër die bloedglukosevlakke styg, hoe groter hulle liggaamsmassa word, en hoe meer onaktief hulle word, hoe groter word die insulienweerstand.  Hierdie is dus ‘n heksekringloop wat aan die gang gehou word deur verkeerde eetgewoontes, te veel van alles en VERAL te veel suiker en koolhidrate.

Die selle in die spiere van iemand met insulienweerstandigheid het dus ‘n chroniese brandstoftekort omdat hulle nie genoeg glukose opneem nie, al klink dit ook nou hoe teenstrydig.  Dit is dus nie verbasend dat diabete weens insulienweerstand altyd moeg is nie, en die laaste ding waarvoor ‘n diabeet kans sien is ‘n oefenprogram!

Too FatInsulienweerstand fikseer ook vet in die vetselle en verhoed dat dit maklik gemobiliseer word.  Hoe kan ons sommer op die oog af insulienweerstand vermoed?  Deur te kyk na die pasient se buikomtrek.  As iemand vet om die middel het (die berugte boepens), is dit ‘n aanduiding van insulienweerstand.

Die term lewervervetting (steato-hepatose) word gebruik vir hierdie opgaar van glikogeen en vet in die lewer.  Dit gee ‘n duidelike beeld op die buiksonar, en is in verskillende grade sigbaar.  In erge gevalle vergroot die lewer, en op die sonarbeeld is geen bloedvate of galbuise meer sigbaar nie (‘n matglas-voorkoms).  Dit kan steato-hepatitis veroorsaak, ‘n inflammatoriese toestand van die lewer, wat kan lei tot lewersirrose, selfs in iemand wat nie alkohol gebruik het nie.  Dit is egter so dat konstante inname van te veel alkohol (en dit kan in sommige gevalle nogal ‘n klein hoeveelheid wees) baie geneig is om lewervervetting te gee, vir verskillende redes: alkohol het ‘n baie hoë kalorie-inhoud alhoewel dit nie voedingswaarde het nie, en ook is dit ‘n gifstof wat in die lewer afgebreek word en lewerskade kan veroorsaak.

Die meganisme van die oormatige inname van koolhidrate, suiker en te veel kos oor die algemeen, met die erg verhoogde liggaamsmassas van mense wat ons deesdae sien, en die aanwesigheid van  insulienweerstand skep dan ook die agtergrond van die epidemie van vetsug en diabetes wat weens die mens se lekkerbekkigheid en gemaksug soos ‘n tsunami oor die wêreld spoel. Die onrusbarende getalle Suid-Afrikaanse skoliere wat reeds vetsugtig is, voorspel niks goed nie.  Daar word bereken dat tot ‘n derde van die wêreldbevolking reeds steato-hepatose het  –  en dit ten spyte van die massas mense, aan die ander kant van die spektrum, wat saans honger gaan slaap.

Insulien speel egter nie ‘n direkte rol in die verbranding van proteïene en vette nie.  Hierdie feit open die deur tot die proteïen-koolhidraat kontroversie.

One thought on “Insulienweerstandigheid en vervetting van die lewer (Steato-hepatose)

  1. Baie interessant. Dis altyd lekker om julle artikels te lees!
    Sent via my BlackBerry from Vodacom – let your email find you!

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s