Mediese simptome van stres

LET WEL: Hierdie webwerf het ‘n nuwe adres! Kliek asb. hier om hierdie artikel te besoek by Dok Francois se nuwe webtuiste: www.dokfrancois.co.za.

‘n Oormaat stres manifesteer in die liggaam as duidelik waarneembare fisieke simptome en kliniese tekens.  Dis ‘n wanopvatting dat stres net ‘n gedagteproses of “in die kop sit” –  dis slegs ‘n deel van die storie.

Alle stres is ook nie nadelig nie.  Positiewe stres = opwinding = uitdaging en dit aktiveer ‘n mens om jou beste te lewer.  Slegs wanneer stres oormatig is en swak hanteer word, kan dit ons negatief beïnvloed.

Positiewe stres  (=uitdagings) word genoem “the spice of life”.  Daarsonder sou ons lewe maar vaal gewees het.  Die liggaam is daarop ingestel om ons toe te rus om uitdagings te hanteer, of die uitdagings nou fisiek is of intellektueel.  Wat ons die gevoel van stres noem, is eintlik die liggaam se respons op ‘n stressor. ‘n Stressor is enigiets wat ‘n eis aan die liggaam stel:

  • ‘n eksamen,Stress
  • ‘n geveg,
  • ‘n  sportkompetisie,
  • ‘n argument of wat ook al
  • selfs uiterste hitte, koue, honger en pyn word as stressors ervaar.

Sodra die sintuie ‘n uitdaging waarneem, word seine na die brein gestuur. Die brein sal onmiddellik evalueer of ons die uitdaging sal kan hanteer of nie (die “veg of vlug”-respons).

Die hipotalamus ontvang die seine en skei kortikotropienvrystellingshormoon af, wat weer die hipofise stimuleer om adrenokortikotropien af te skei, wat op sy beurt die byniere stimuleer om katecholamienes af te skei.

So gee die brein opdrag dat die liggaam onmiddellik die nodige hormone afskei om ons toe te rus om die uitdaging te hanteer (of dit nou veg is, of vlug).  Die bekendste van hierdie hormone is die katecholamines (kortisol, adrenalien en noradrenalien), maar insulien, skildklierhormoon, selfs groeihormoon speel ‘n rol, want om te groei stel groot metaboliese eise aan ‘n liggaam.

Die gevolg van die vrystelling van hierdie hormone is onder andere dat

  • die hart vinniger klop (om meer bloed aan die spiere en brein te verskaf, sodat ons tot aksie kan oorgaan);
  • die asemhaling versnel (die bloed moet suurstofryk wees);
  • die spiertjies in die wande van die slagare trek saam sodat die are effens vernou om die bloed vinniger te laat beweeg, dit wil sê die bloeddruk styg;
  • insulien sit die liggaam se verbranding van glukose en vet in ‘n hoër rat om genoeg energie/brandstof aan die spiere te verskaf;
  • senuweegeleiding versnel om die brein vinniger te laat werk (om planne te maak) en boodskappe vinniger by die spiere te kry vir aksie;
  • die spiere trek saam om in ‘n staat van gereedheid te kom vir aksie van watter aard ook al (spring bo-oor ‘n twee meter muur om weg te kom van die kwaai hond; hardloop die 100 meter sodra die skoot klap; veg teen die vyand).

Let op:  al hierdie toerustingsprosesse is gemik op fisieke inspanning.  Die vangplek is dat die liggaam ons op presies dieselfde manier toerus vir fisieke en intellektuele uitdagings, dit wil sê die student wat in die eksamenkamer sit, se liggaam reageer op dieselfde manier as die liggam van die atleet wat in sy wegspringblokke staan.

Normaalweg sal ons die stresrespons “afwerk”, dit wil sê die atleet hardloop sy wedloop en gebruik sy liggaam maksimaal.  Hy gebruik as ’t ware sy toerusting op en “werk” so die hormoonrespons af. Na die wedloop keer alles terug na normaal.  Die student vind dat hy na die eksamen ‘n groot behoefte het aan beweging, en gaan hardloop ‘n ent om sy spanning weg te werk. Soos die liggaam ontspan, ontspan ook die gees. Gewoonlik herstel die liggaam sy fisiologiese balans binne 24 uur.

Die probleem kom wanneer ons nie fisies die stresrespons afwerk nie, en die aktiewe prosesse in die liggaam nie terugkeer na normaal nie.  Die liggaam rus ons op presies dieselfde manier toe vir ALLE soorte uitdagings.  So sal die bestuurder van die maatskappy dag na dag agter sy lessenaar sit, of in die vergadering, met al hierdie fisieke toerusting om te kan veg of vlug, maar hy gebruik dit nie en keer nie terug na die basislyn nie.  As hy nie tyd maak vir fisieke ontlading nie, word hierdie liggaamsreaksies kronies en hy begin gestres voel.

Eenvoudig gestel, kan ons drie verskillende streskringlope in die liggaam onderskei, verwant aanmekaar, maar tog verskillend.

  • Akute stres;
  • Kroniese stres;
  • Post-traumatiese stres (PTSD of “post traumatic stress disorder”).

1.         Akute stres

Akute stres volg wanneer ‘n mens se brein ‘n stressor (gewoonlik die somtotaal van ‘n veelvoud van stressors) waarneem en besef dat dit meer is as wat jy kan hanteer.  Dit is nie meer ‘n uitdaging nie, maar word ‘n bedreiging.  Negatiewe stres (soos voorgestel in die sone van ongemak op die grafiek) word merkbaar as ‘n bewuste gevoel van spanning, konsentrasieverlies, malende gedagtes, stadiger denke, slaaploosheid en verlies aan produktiwiteit..  Die gewone respons hierop is om langer ure te werk om te probeer bybly, wat stres vererger, produktiwiteit verder veminder, en lei tot uitputting.  Op hierdie stadium is die stresrespons met die regte optrede heeltemal omkeerbaar.

2.         Kroniese stres

Wanneer stres kronies word en die stresrespons,  nie gebruik word nie, bly die streshormoonvlakke in die bloed verhoog en bly die liggaam die hele tyd in die fase van fisieke gereedheid, toegerus vir aksie.  Die resultaat is voorspelbaar:

Stres

  • Die hart klop nou aanmekaar vinnig en veroorsaak ritmestoornis;
  • die bloeddruk bly verhoog;
  • as die asemhaling permanent te vinnig bly, hiperventileer die pasiënt soms en voel baie sleg daarvan of kan selfs sy bewussyn verloor;
  • die spiere bly saamgetrek, met gevolglike spierspasmas veral in die nek, skouers en rug, en die pasiënt ondervind dat sy hande bewe;
  • die vinnige senuweegeleiding veroorsaak malende gedagtes, slaaploosheid en soms angsaanvalle;
  • die bloedvette bly permanent verhoog;
  • en die liggaam se immuunrespons word afgebreek sodat die pasiënt meer vatbaar raak vir infeksies.

Benewens die pyn en ongemak wat al hierdie prosesse veroorsaak, verhoog stres dus  die pasiënt se risiko vir veral hart- en bloedvatsiektes. Depressie kan intree wanneer die pasiënt heeltemal oorweldig begin voel as gevolg van langdurige, kroniese stres. Een van die kenmerke van stres is dat dit ons gedagteprosesse beperk en dat ons gevolglik die vermoë tot kreatiewe denke, en dus die vermoë om problem op te los, verloor.  Die slagoffer is dus vasgevang in ‘n bose kringloop en sien geen uitkoms nie.

Die uitbrandingsindroom  (“burnout”)  is ‘n gevaarlike toestand van algehele psigiese ineenstorting waar die pasiënt hulpeloos is om selfs enige alledaagse aksie uit te voer (soos bv. om die telefoon te beantwoord of ‘n besluit te neem oor wat hy/sy die dag moet aantrek).  Dit lei tot depressie, dikwels gepaard met angsaanvalle, en neem baie lank om te herstel.  Sekere mense herstel nooit heeltemal nie.

Daar is aanvanklik gedink dat die brein gedurende depressie “stil” en onaktief is as gevolg van neuro-uitputting.  Navorsing het egter getoon dat die brein in werklikheid in ‘n toestand van koorsagtige aktiwiteit is.  Dit maak die pasiënt so moeg dat hy beswaarlik energie oor het om net asem te haal.  Die diep sugtende asemhaling van depressie is goed bekend, waar die pasiënt met groot inspanning sy longe vol lug moet dwing om benoudheid af te weer. Pasiënte met die kroniese uitputtingsindroom het dikwels slaapstoornis, spierpyne, gewrigspyne, soms allergiese simptome en ander versteurings van die immuunsisteem.

“Produktiwiteit” = die somtotaal van ons vermoëns op grond van ons intellek, opleiding, agtergrond, infrastruktuur, motivering, fisieke en geestelike vermoëns.

3.         Post-traumatiese stressindroom ( PTSD) bly sluimer in die liggaam en gees

PSTD volg tipies op ‘n episode van akute stres waar die slagoffer heeltemal hulpeloos was en hoegenaamd geen beheer kon uitoefen oor sy situasie nie.

Akute stres stimuleer die hipotalamiese-hipofise-bynier kringloop in die liggaam, en lei tot die afskeiding van kortikotropienvrystellingsfaktor (KVF) en adrenokortikotrofiese hormoon wat die byniere stimuleer om adrenalien en noradrenalien af te skei.  Verhoogde vlakke van KVF bly teenwoordig in die serebrospinaalvog (rugmurgvog) van pasiënte met PTSD, in vergelyking met ‘n kontrolegroep.  Dit is bewys dat kroniese stres lei tot onderdrukking van neurone in die hipokampus (deel van die brein) en pasiënte met PTSD het ‘n kleiner hipokampus as die kontrolegroep.

Daar is ook gevind dat mense met PTSD steeds verhoogde vlakke van adrenalien, noradrenalien en katecholamienes (die sg. streshormone) in hulle bloed het.  Magnetiese resonansstudies (waar die pasiënt in die sogenaamde “tonnel” ondersoek word) wys ‘n oordrewe respons van die amygdala (‘n deel van die brein) tydens blootstelling aan ‘n bedreigende situasie.  Hierdie breinsentra werk in die onderbewussyn en kan nie beheer word deur die hoëre breinfunksies (dit wil sê sogenaamde positiewe denke) nie.  ‘n Mens kan egter wel met die tyd streshanteringsmeganismes (“coping mechanisms”) aanleer en toepas om die effek te verminder.

Enige situasie wat die pasiënt vervolgens as bedreiging ervaar (selfs al hou dit nie eens verband met die aanvanklike traumatiserende episode nie  –  kan ook wees besering, asma-aanvalle, die diagnose van kanker, ‘n miskraam) kan dus ‘n akute opflikkering van PTSD veroorsaak met akute stressimptome.   Dis noodsaaklik om van die moontlikheid bewus te wees, dit te voorkom waar moontlik, dit as sulks te herken en vroegtydig te behandel.

Mense met sekere persoonlikheidstipes is meer vatbaar vir PTSD as andere.  Dieselfde ervaring kan heeltemal verskillende reaksies in verskillende mense veroorsaak.  Sommige pasiënte mag in hierdie tyd ook alkohol- of dwelmafhanklik raak in ‘n poging om deur die doelbewuste beneweling van hulle brein die onaangename herinneringe uit te wis. Pasop daarvoor  –  dit hou die hele proses langer aan die gang.

Die mediese behandeling van PTSD is kompleks, daar moet by die pasiënt se individuele behoeftes aangepas en versigtig gemonitor word deur ‘n kundige op die gebied. Verkeerde medikasie kan die pasiënt nog slegter laat voel.  Daar is ‘n groot verskeidenheid van middels beskikbaar wat op verskillende maniere werk, en wat gekies word volgens die individuele pasiënt se probleem.

Hierdie middels word saam met psigoterapie gebruik en word aangepas tot die optimum respons verkry word..  Met verloop van tyd sal die liggaam geleidelik sy eie herstel bewerkstellig, sodat die medikasie gestaak sal kan word.

PSTD is egter ‘n baie groot probleem, veral by mans wat in oorlogsituasies betrokke was, of mense wat in gewelddadige aanvalle of bedreigings verkeer het, soos ongelukkig dikwels in ons land met gewapende inbrake en kapings.

Laat 'n opmerking

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s